Sport

Ligbron eerstespan klop HTS Middelburg in titaniese stryd

Dit was 'n strawwe kompetisie en die seuns van albei spanne was so taai soos ratels.

Ligbron Akademie vir Tegnologie het die afgelope naweek kragte met HTS Middelburg se Rooies in die SDC Noordvaalbeker se plate-afdeling gemeet.

Die onderskeie spanne se uitslae is soos volg (Ligbron se telling eerste):

• O. 14A-span wen 10-5

• O. 14B-span wen 26-21

• O. 15A-span wen 21-14

• O. 15B-span verloor 7-12

• O. 16A-span verloor 14-22

• O. 16B-span gelykop 10-10

• Tweede span verloor 3-19

• Derde span verloor 7-27.

Neo Zwane op koers doellyn toe. Foto’s | Wayne van der Walt

Die eerste span se wedstryd was ‘n taai kragmeting tussen die Liggies en die Rooies, wat elk in eie reg vir dié titaniese stryd opgedaag het.

Die Rooies het op ‘n hoë noot afgeskop en sommer in die openingsminute twee keer agter Ligbron se pale gaan vier.

Ligbron se seuns het egter mooi kopgehou, al het dit geblyk dat die Rooies sommer van meet af aan die wind uit hul seile gehaal het.

Ligbron moes ook in die eerste helfte met die wind van voor meeding.

Ligbron het gou met ‘n drie van hul eie deur Bandile Thanjekwayo geantwoord, wat met merkwaardige veerkrag byna hoër as die paalbeskermers oor die Rooies se doellyn geduik het.

Dit was ‘n strawwe kompetisie en die seuns van albei spanne was so taai soos ratels. Duikslae het die oe’s en aa’s deur die paviljoene laat weergalm.

‘n Rooies-speler klou tevergeefs aan Lethi Ngwenya wat agter die pale sou gaan druk het.

Nodeloos om te sê, was dit ook ‘n besige dag vir die paramedici wat gedurig met daai bekende yssakkies op die veld moes uitdraf.

Ligbron het in die tweede helfte met nuwe energie opgedaag, ‘n agterlyn wat woes gevaarlik met bal in die hand was en nou ook die voordeel van die wind aan hul kant gehad het.

Daar was egter ‘n stilstand in die wedstryd toe Ligbron se Thamsanga Lamula ernstig beseer is.

Die toonbeeld van sportmanskap het egter na vore gekom toe die Rooies in ‘n muurformasie tussen die beseerde speler en toeskouers gestaan het terwyl die paramedici na hom omgesien het.

Bandile Thanjekwayo stel sy veerkrag ten toon met hierdie duik. Foto | Wayne van der Walt

Die speler is met ‘n draagbaar in die ambulans geplaas, en met sy vertrek het die Rooies se toeskouers opgestaan, hul kepse afgehaal en uitbasuin: “Ligbron, we salute you!” Volgens Ligbron se afrigter, Herman Schlebusch, is Thamsanga vir harsingskudding behandel en sterk hy tans goed aan.

Die wedstryd is hervat met die verdediging van albei spanne wat iets merkwaardig was – geen span wou ‘n sentimeter prysgee nie.

Ligbron se agterlyn was vuur en vlam, en wanneer die bal deur die hande beweeg het, was dit goud werd. Ligbron het die voortou geneem, met nog drieë deur Lethi Ngwenya en Anele Ngwenya, asook twee strafskoppe wat deur Renier van Staden oorgeskop is.

In die laaste oomblikke van die wedstryd was hul hooftaak om die Rooies uit te hou.

Hoewel die Rooies aanhou dreig het, was Ligbron uitstekend om die bal saam met die wind diep in die Rooies se helfte te stuur.

Met etlike sekondes op die klok is daar ‘n strafskop aan Ligbron toegeken, en kon hulle die bal uitskop om die oorwinning van 25-20 te verseker.

Jaco van Wyk hardloop met trots vir die eerste span uit.

Ligbron-ondersteuners het uit hul nate gebars, op die veld uitgehardloop en op die spelers toegesak om hulle geluk te wens.

Lees elders in Hoëvelder oor Thamsanga se besering en Schlebusch se reaksie op
die sportmangees en sy prys vir die paramedici.

Related Articles

Back to top button