Ermelo-matriekleerder deel pak slae uit

As Jonathan Swart nie matriekeksamens skryf of goue medaljes wen nie, hardloop hy landloop of speel hy krieket.

Jonathan Swart, ’n matriekleerder van Ligbron Akademie, se hande staan vir feitlik niks verkeerd nie.

Hy het onlangs weer goud by die Mpumalanga Provinsiale Kampioenskappe gewen, wat hom toelaat om aan die SA kampioenskappe in Julie deel te neem.

Hy boks nou ongeveer vyf jaar lank, en het in gr. 9 die sport begin beoefen.

“Dit is eintlik ’n snaakse storie,” sê Jonathan oor hoe hy aan die sport blootgestel is.

“Ek het moeilikheid met die verkeerde ou gesoek, en ek het toe ’n redelike pak slae gekry.”

Na vier jaar het Jonathan sy eerste amptelike geveg in 2022 gehad, en het hy vir die eerste keer goud by die Mpumalanga Provinsiale Kampioenskappe gewen.

Dit het hom gemotiveer om aan enige gevegsport te begin deelneem.

Daarna het hy teen die SA’s se kampioen in die semifinaal geboks, toe hy algeheel derde in die SA’s gekom het.

Jonathan Swart

“Dit was een van my gunsteling-fights, al het ek verloor,” sê hy trots.

Vanjaar is Jonathan se doelwit om die SA’s te wen en na die Olimpiese Spele deur te dring.

“Hierdie jaar is my comeback-jaar – ek wil eerste plek met die SA’s wen,” sê hy.

Hoewel Jonathan vir sy uitklophou binne die eerste paar tellings van ’n toernooi bekend is, het hy self nog nooit een ontvang nie.

Hy en sy gesin glo vas dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves.

Hy volg streng ’n gesonde eetplan en hou by sy oefenprogramme.

Professionele boks is Jonathan se droom. Hy beoog om dit na skool sy beroep te maak.

Hy benodig egter borgskappe om sy toernooie te befonds.

Vir enige inligting oor die borgskappe, skakel Sihle Dube, Jonathan se afrigter, by 079 937 9531.

Jonathan Swart en Sihle Dube

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Exit mobile version