Avontuurlustige motorfietsryers van Ermelo skop stof op by Farm Jam

Die motorfietsryers het aan die pro-klas deelgeneem en moes vier rondes van 22 km elk voltooi.


Die avontuurlustige motorfietsryers van PC Racing het onlangs aan die Farm Jam se derde ronde by Sergeant Pepper buite Middelburg deelgeneem.

Dié seuns wat aan die pro-klas deelgeneem het, moes vier rondes van 22 km elk voltooi.

Stiaan van der Heever het ‘n goeie pas gehandhaaf en sy derde agtereenvolgende wen ingepalm.

Hy het die vier rondes in ‘n tyd van 02:17:11 voltooi, sowat 15 minute vinniger as Rouan Kruger van Mbombela wat met ‘n tyd van 02:32:19 tweede was.

In die S3-novice-klas het die motorfietsryers ook vier rondes van 22 km elk voltooi.

GD Koch was vierde met ‘n tyd van 02:25:37, gevolg deur Dian Jacobs wat drie rondes in die sewende plek voltooi het.

In die 85-juniorklas het die seuns goed gevaar en die drie het almal sewe rondes klaargemaak.

Willem Jacobs het vir ‘n derde agtereenvolgende wen gesorg met ‘n tyd van 02:08:30, met Paulus van Niekerk kort op sy hakke in die tweede plek met ‘n tyd van 02:10:30.

MJ van Aarde het sy persoonlike beste gery met ‘n tyd van 02:20:59 en het vir die eerste keer in die top 10 geëindig.

LP Scheepers en Nathan Herbst het elk ses rondes voltooi en onderskeidelik tye van 02:11:12 en 02:25:42 behaal.

Lian van Niekerk het in die 65cc-juniorklas koning gekraai. Hy het ‘n wentyd van 02:08:59 gehad.

Jaun Terreblance was tweede met ‘n tyd van 02:11:27, Gustav van Niekerk was 11de met ‘n tyd van 02:23:13 en Marjole Scheepers was 15de.

Exit mobile version