School sportSport

Ermelo-atlete blink uit by Interhoër

Ermelo Hoërskool is naaswenners by Interhoër na punteregstelling

Die jaarlikse Interhoër het Saterdag, 16 Februarie by Ligbron Akademie vir Tegnologie plaasgevind.

Ermelo-atlete het met mag die dag afgeskop en sommer al vroeg gewys dat hulle atlete is waarmee daar rekening gehou moet word.

Atlete van Ligbron Akademie vir Tegnologie, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Lydenburg, Hoërskool Middelburg, Hoër Tegniese Skool Witbank en Hoër Volkskool Heidelberg en Hoërskool Oosterland het meegeding.

Die pawiljoen het gebewe onder die sang-atlete se harde krete en aanmoediging vir hul skool se atlete.

Na ‘n punteregstelling is Hoërskool Ermelo as die naaswenners gekroon en Ligbron Akademie vir Tegnologie het die vierde plek volgestaan.

Hierdie jaar se byeenkoms het ‘n nuwe formaat aangeneem, naamlik A- en B-spanne.

EHS het in beide afdelings ‘n tweede plek behaal, wat die hulle ‘n uitsonderlike algehele tweede plek gee.

Die nuwe uitslae lyk soos volg; 

1. Hoërskool Rob Ferreira met 1 457.5 punte
2. Ermelo Hoërskool met 1 382 punte
3. Hoër Volkskool Heidelberg met 1 300
4. Ligbron Akademie vir Tegnologie met 1 296.5 punte
5. HTS Witbank met 1195 punte
6. Hoërskool Middelburg met 1142.5 punte
7. Hoërskool Lydenburg met 792.5 punte
8. Hoërskool Oosterland met 518 punte

Hoërskool Ermelo het 19 goue medaljes in beide A- en B-spanne ingepalm, 20 silwer medaljes in die A-span en 29 silwer medaljes in die B-span en 19 brons medaljes in die A-span en 24 brons medaljes in die B-span.

EHS se dogterspan is aangewys as die beste dogterspan van die dag.

Hierdie dogters het hard gewerk en geveg tot die einde en is daarvoor beloon.

Die volgende dogters het ook elk ‘n wisseltrofee vir beste prestasie van die dag ontvang; Amy Greyling vir die Beste worpe senior dogter, Carla Ferreira vir die Beste worpe junior dogter en Danel Olivier vir die Beste hekkies junior dogter.

EHS se sangatlete het kop en skouers bo die ander uitgestaan en in gure weersomstandighede hul stemme dik gemaak.

Hulle het onophoudelik met ywer en entoesiasme die atlete aangemoedig onder leiding van dirigente wie se passie vir EHS aansteeklik was.

Die tema van EHS se dirigente was Peter Pan.

Ten spyte van die feit dat daar geen geesbeker uitgedeel is nie, het Hoër Volkskool Heidelberg dit goedgedink om aan EHS hulle drom te skenk.

Die ander skole het heelhartig saamgestem dat EHS die drom verdien en só is ‘n nuwe gees-tradisie geskep.

Francois du Plessis snel om die baan tydens die Interhoër atletiek-byeenkoms wat Saterdag, 16 Februarie by Ligbron Akademie vir Tegnologie plaasgevind het. (Foto: Verskaf)

Related Articles

Back to top button