Local sportSport

Rolbalspelers van Ermelo vaar goed by Hoëveld-kampioenskap in Secunda

Die Hoëveld-kampioenskap ’n groot byeenkoms waar 74 wedstryde oor agt rondes gespeel is

Drie rolbalspelers van die Ermelo Rolbalklub het koning gekraai tydens die Hoëveld-enkelkampioenskap vir mans wat die afgelope naweek op die rolbalbaan van Sasolklub in Secunda gespeel is.

Fritz Olmesdahl het in die eindstryd teen Lanie Nel van Secunda gespeel. Nel het eerste 21 punte behaal teenoor Olmesdahl se 11 punte.

Riaan Harris en Vaino Prinsloo, albei van Ermelo Rolbalklub, het vir derde en vierde plekke in die ope-afdeling uitgespeel. Dit was egter Prinsloo wat eerste 21 punte aangeteken en dus die derde plek behaal het.

In die seniorafdeling se eindstryd het Koos Jonker van Secunda met Tiens Zietsman van Vrede afgereken.

Volgens mnr. Johan Jansen, skakelbeampte van die Secunda-klub, was dit ‘n strawwe kompetisie en moes die spelers hard gewerk het om die eindstryd te haal.

Spelers van vyf klubs ding jaarliks om die Hoëveld-kampioenskap se wennerstitel mee.

Dié klubs is Sasol Secunda, Bethal, Ermelo, Standerton en Vrede.

“Altesaam 74 wedstryde is oor agt rondes gespeel,” het mnr. Jansen verduidelik.

Vaino Prinsloo vee die sy voorkop af, terwyl Riaan Harris die bal rol. Hulle het uitgespeel om die derde en vierde plekke in die ope-mansafdeling.

Related Articles

Back to top button