Ermelo Lugvaart Vereniging ontvang pryse by Aero-klub van Suid-Afrika se jaarlikse prysuitdeling in Johannesburg

Ermelo Lugvaart Vereniging het nie teruggestaan tydens die geleentheid nie en het weggestap met die derde plek vir die beste lugskou van die jaar.

Die Aero-klub van Suid-Afrika het Saterdag, 17 November hul jaarlikse toekennings by die Wanderersklub in Illovo, Johannesburg aangebied waar Ermelo Lugvaartvereniging met die derde plek vir die beste lugskou van die jaar weggestap het.

Hier ding hulle mee teen alle vliegklubs landwyd.

“Die FAW Ermelo Lugskou sou nie moontlik gewees het sonder ons hoofborg, FAW Trokke en ander borg, Gert Sibande Distriksmunisipaliteit nie,” het mnr. André van Rooyen, hooforganiseerder van die lugskou, gesê.

Mnr. Van Rooyen het namens die voorsitter, mnr. Corné Basson en elke lid van die klub, die eerste prys ontvang vir die entoesiastiese vliegklub van die jaar.

Vir die kompetisie, is van elke vliegklub verwag om ‘n inskrywing in te stuur met beskrywings van hulle geskiedenis, maandelikse vergaderings, hulle drome vir die klub en aktiwiteite waaraan hulle deelneem.

Volgens ds. Frans Boshoff het Ermelo Lugvaartvereniging die besluit geneem om hulle nie te beperk deur slegs vlieëniers by die vereniging toe te laat nie, maar enige een met ‘n belangstelling in lugvaart te verwelkom.

So het die naam Ermelo Lugvaart-vereniging ontstaan.

Die groep hou maandeliks ‘n vergadering om sake soos die aanloopbaan, geriewe en omheining van die perseel te bespreek en te verseker dat dit in stand gehou word.

Saam met die vergadering word daar gekuier om die braaivleisvure en word daar soms sprekers genooi om hulle te kom toespreek.

Die vereniging het in 1993 die eerste lugskou op Ermelo aangebied en het in 2011 eerste in die beste kleiner lugskou-afdeling geëindig.

Vanjaar was daar nie verskillende afdelings vir groot en klein lugskoue nie en spreek die derde plek in die afdeling boekdele van FAW Ermelo Lugskou.

Exit mobile version