Sias Jacobs en JP Austin van Ligbron Akademie vir Tegnologie blink uit tydens die vakansie-toer

Die krieketspanne bedank hul borge en ouers wat toer moontlik gemaak het.

Die S0/15A- en eerste krieketspanne van Ligbron Akademie vir Tegnologie het in die skoolvakansie die Jaru-krieketweek wat vanaf 4 tot 7 Julie op Brits aangebied is, bygewoon.

Op die eerste dag het hulle ’n 50-boulbeurte wedstryd teen Waterkloof se 0/14A-span gespeel.

Hulle het die loting verloor en het eerste die kolf opgeneem. Waterkloof het 293 lopies almal uit in die 45ste boulbeurt aangeteken.

Die Liggies het tydens hul kolfbeurt 93 lopies aangeteken.

Die Liggies het op dag twee teen Potch Volkies te staan gekom. Ligbron het die loting gewen en besluit om eerste te boul. Volkies het 163 lopies in 30 boulbeurte aangeteken. Ligbron het tydens hul kolfbeurt 166 lopies in 27 boulbeurte aangeteken. Die Liggies het die wedstryd met ses paaltjies gewen.

Sias Jacobs het 55 lopies aangeteken en Weldon Strydom 58 lopies nie uit nie.

Tydens die tweede dag se middagwedstryd het die Liggies teen Waterkloof se 0/15B-span te staan gekom. Ligbron het die loting verloor en eerste gekolf en 146 lopies aangeteken.

JP Austin het 44 lopies aangeteken en Jacques van Nieuwenhuizen 41 lopies.

Die Liggies het die wedstryd met twee paaltjies verloor.

Die eerste seunskrieketspan het hul eerste wedstryd teen Hoërskool Swartskop se eerstes gespeel. Ligbron het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Die teenstanders het 211 lopies in 48 boulbeurte aangeteken.

Mark Niebuhr is as die beste bouler met drie paaltjies vir 42 lopies in 10 boulbeurte aangewys. Ligbron is almal vir 81 lopies uitgeboul. Hulle het die wedstryd met 130 lopies verloor.

Ligbron het tydens hul tweede wedstryd teen Hoërskool Bergvlam in ’n 30-boulbeurte wedstryd eerste gekolf en 110 lopies almal uit aangeteken. Bergvlam het die wenlopies in die 22ste boulbeurt, met vier paaltjies plat, aangeteken.

Die eerstespan het met ses paaltjies verloor.

In hul derde wedstryd het Ligbron se eerstespan teen Hoërskool Hugenote in ’n 30-boulbeurte wedstryd te staan gekom. Ligbron het eerste gekolf en 188 lopies almal uit in die 28ste boulbeurt aangeteken.

Ruben Herbst het 55 lopies van 48 balle aangeteken en Hanco Bakker 32 lopies. Hugenote het die wenlopies in die 24ste boulbeurt aangeteken sonder die verlies van enige paaltjies.

Sias Jacobs en JP Austin is na afloop van die week gekies om ’n toerspan te verteenwoordig wat na Sri-Lanka gaan toer.

Exit mobile version