Bloumasjien bobaas teen Jan Viljoen

Die Liggie-rugbyspanne het 'n goeie dag beleef en altesaam 192 punte aangeteken en slegs 22 punte afgestaan.

Ligbron Akademie vir Tegnologie se wintersportspanne het Saterdag op hulle tuisveld in die derde ronde van vanjaar se Superreeks teen Hoërskool Jan Viljoen van Randfontein te staan gekom.

Die Liggie-rugbyspanne het ‘n goeie dag beleef en altesaam 192 punte aangeteken en slegs 22 punte afgestaan.

Ligbron se Calstar Group eerste span het vanuit die staanspoor druk op Jan Viljoen geplaas toe Edward Deacon binne die eerste drie minute oor die doellyn geduik het vir Ligbron se eerste drie wat deur Message Nkosi verdoel is.

Kort hierna het Ligbron weer ‘n drie gedruk wat die telling op 12-0 te staan gebring het. Jan Viljoen het geantwoord met ‘n onverdoelde drie maar die Liggies het nog drieë kort voor rustyd gedruk wat die telling op 33-5 te staan gebring het.

In die tweede helfte is die res van die Ligbron se spelers speelkans gegun, maar Jan Viljoen het Ligbron se foute uitgebuit en ongeveer 20 minute lank op die Liggies se doellyn gekuier, maar sonder sukses.

Laat in die wedstryd het Ligbron weer beheer oor die wedstryd geneem en nog drie skitterende drieë gedruk om die wedstryd met 52 – 5 te wen.

Drieë is gedruk deur Edward Deacon (3), Sizwe Maseko (1), Sibusiso Sibeko (1), Johnny Blaauw (1), Njabulo Mahlobo (1) en Hanru Botha (1). Message Nkosi het met ses doelskoppe geslaag.

Ander rugbytellings is : tweede span wen 40-0, 0/16A’s wen 24-0, 0/15A’s speel gelykop 12 elk en die 0/14A’s wen met 64-5.

Ligbron se netbalspanne het ook ‘n baie goeie dag beleef met oorwinnings vir al die spanne.
Die eerste span het met 15-8 geseëvier, die tweede span met 19-15, die 0/16A’s met 29-8, die 0/15A’s met 30-6 die 0/14A’s met 14-10.

Op die hokkieveld het die Liggies ook al hulle wedstryde oortuigend gewen en altesaam 49 doele aangeteken en slegs een doel afgestaan.

Die tellings is: 0/14A: 5-0, 0/15A: 13-0, 0/16A: 5-0, tweede span:15 -0 en die eerste dogterspan wen 7-0. Die eerste seunshokkiespan het hul wedstryd 4-1 gewen.

Die volgende Superreeks-wedstryde vind eers ná die skoolvakansie op Saterdag, 22 April, teen Hoërskool Dinamika op Ligbron se tuisveld plaas.

Exit mobile version