Local sportSport

Vier vroue wen rolbaltrofee

'n Pragrol deur Maggie het die wedstryd geswaai ....

Die Hoëveld Viere-kampioenskap het die afgelope naweek op Ermelo se bane plaasgevind.

Mans- en vrouespanne van Sasol en Ermelo het teen mekaar om die gesogde titel meegeding.

Ermelo se vrouespan bestaande uit Maggie Barnard, Sonja Mouton, Gerda Swanepoel en Alta Schneider het skitterende rolbal gespeel en hul eerste wedstryd teen Sasol 1 met vyf punte gewen.

In hul wedstryd teen Sasol 2 kon die Ermeloërs net nie in die eerste helfte van die wedstryd sorg dat die houte in hulle guns draai nie en met die koppe wat nog gespeel moes word wat al hoe minder raak, was hulle op ‘n tydstip met 10 punte agter.

‘n Pragrol deur Maggie het die wedstryd geswaai en Ermelo het die laaste drie koppe met nuwe moed aangepak.
Ermelo het dapper tot die einde geveg en die wedstryd met net twee punte verloor.

Nadat al die spanne se telkaarte bereken is, was dit die Ermeloërs wat met die trofee weggestap het met Sasol 1 (Laurika Steenkamp) in die tweede plek en Sasol 2 (Annette van Ryneveld) derde.

Ermelo se manspan het derde in die toernooi geëindig, Andy Lourens en sy span (Sasol) het as wenners uit die stryd getree en die tweede plek het ook aan Sasol (Piet Grobler) gegaan.

Related Articles

Back to top button