Sport

Gholfklub groet die ‘Pro’

"Ek was 15-jaar oud toe ek vir die eerste keer 'n gholfstok vasgehou het."

Ermelo-gholfklub neem vandeesweek afskeid van die professionele speler en gholfafrigter, Estiaan Roos, wat eersdaags na die Kaap verhuis.

Hy het ‘n pos aanvaar as assistent-direkteur van gholf by die Clovelly-gholfklub in Vishoek.

Estiaan (26) wat die afgelope vier jaar professionele gholf speel, is ‘n boorling van Ermelo en het as 15-jarige sy suksesvolle gholfloopbaan begin.

Sy belangstelling in gholf het reeds op skool begin toe hy een middag saam met vriende by die klub gholf gespeel het.

“Dit was die eerste keer dat ek ‘n gholfstok vasgehou het. Met my heel eerste dryfhou het ek die bal suiwer en skoon getref. Dit het ver getrek en in die middel van die skoonveld sowat 30m van die setperk beland. Ek het toe vir myself gesê ek dink ek sal dié spel kan speel. Ek gaan nie vir die res van my lewe in ‘n kantoor sit nie, ek gaan gholf speel. Die gogga het gebyt en van toe af is ek versot op gholf,” het hy vertel.

“Maar daarby moet ek meld dat gholf as die groot gelykmaker in sport gereken word. Mens moet jouself nooit groter as die spel ag nie, want gholf het nou eenmaal die manier om ‘n mens gou-gou terug te bring aarde toe. Selfs die beste spelers in die wêreld beleef minder goeie dae op die gholfbaan,” het hy bygevoeg.

As leerling van Ligbron Akademie vir Tegnologie het Estiaan eerstespangholf en -krieket gespeel, maar dit was met gholf dat hy vinnig opgang gemaak het. Sy eerste voorgeegradering was 10 en hy speel tans vanaf ‘n nul.

Hy het Mpumalanga in verskeie spanne verteenwoordig en spog ook met ‘n oorwinning in ‘n Pro-Am-toer­nooi op die skilderagtige Serengeti-gholfbaan waar hy saam met bekende rugbyskeidsregter André Watson gespeel het.

Ná skool was hy vyf jaar in Amerika waar hy sy gholfvaardighede geslyp het. Met sy teruggekeer na Suid-Afrika, het hy by gholfklubs op die Oosrand, in Limpopo en by Silver Lakes in Pretoria aangesluit.

Terug op Ermelo het hy diens aanvaar as Ermelo-gholfklub se professionele gholfspeler waar hy lesse aangebied en ook die Pro-Shop-winkel oorgeneem het.

Van sy leerlinge is Chanté Boonstra wat tans een van Mpumalanga se beste vroue- en junior gholfspers is en Leon Visser wat onder die top 100 amateurgholfspelers in die land is.

Estiaan se rolmodelle is die Suid-Afrikaanse speler, Shaun Norris, en die bekende Rory Mcllroy, nie alleen omdat hulle goed presteer nie, maar ook weens hulle hele benadering tot gholf.

“Ek is dankbaar dat die sport so goed vir my is en veral teenoor my ma, Maryke Roos, wat werklik groot opofferings gemaak het om my in my droom te ondersteun en my bygestaan het om dit ‘n werkliheid te maak. Ook aan my meisie Natalie Swanepoel wat my ook deur alles ondersteun.”

Estiaan het ook sy dank en waardering teenoor die bestuur en lede van Ermelo-gholfklub uitgespreek en gesê dit was vir hom ‘n voorreg om as professionele speler by die klub te kon werk.

“Dankie aan almal vir julle vriendelikheid en lekker saamspeel. Gholf is my passie en julle het almal gehelp om dit vir my maklik te maak. Daar is bykans 200 lede en om almal te noem, is nie moontlik nie, maar in besonder wil ek Gerhard “Oros” van der Walt bedank wat my baie leiding gegee het en ook sy vrou, Charlene, en Piet Swanepoel vir sy leiding.”

‘n Afskeidsgeselligheid vir Estiaan is die afgelope Saterdag in die klubhuis gehou.

Related Articles

Back to top button