Gary en Chanté is gholfklub se 2016-kampioene

Die vroue-afdeling is vir die vierde agtereenvolgende jaar deur die onstuitbare "wunderkind", Chanté Boonstra, ingepalm.

Ermelo Gholfklub se klubkampioenskap is die afgelope naweek beslis en in die mansafdeling is Gary Daniel as die nuwe kampioen gekroon.

Die vroue-afdeling is vir die vierde agtereenvolgende jaar deur die onstuitbare “wunderkind”, Chanté Boonstra, ingepalm.

Chanté, ‘n gr. 10-leerling aan Ligbron Akademie vir Tegnologie, het weer eens gewys dat sy in die toekoms diep spore in die gholfwêreld gaan trap.

Ná ‘n minder goeie rondte van 84 houe oor die eerste 18 putjies, het sy sake in die tweede rondte reggeruk en 77 houe aangeteken vir ‘n totaal van 161 oor die 36 putjies om haar die kampioenskap in die Vroue A-afdeling (gros) te besorg.

Sarie Erasmus (196) het met die louere weggestap in die B-grosafdeling en Allison Oosthuizen (165) is die wenner van die B nett -afdeling.

Yolanda van der Merwe was die wenner van die vroue IPS-afdeling.

Die manskompetisie was van die staanspoor af baie mededingend met minstens vyf of ses spelers wat met die titel kon wegstap.

Gary Daniel se eerste rondte van 71 houe het hom glad nie breed laat glimlag nie, maar sy terugvegpoging van ‘n opspraakwekkende 66 houe in die tweede rondte het die glimlag gou weer laat verskyn en hy kon ‘n totaal van 137 houe op sy telkaart invul.

Colin Odendaal is naaswenner nadat hy en die veteraan Eddie Daniel albei op 139 houe vir die toernooi geëindig het.

Ná ‘n uittel is die tweede plek aan Colin (70 en 69) toegeken en Eddie (69 en 70) was derde.

Tollie Schoeman was die A nett-afdelingwenner en Brian Naidoo was in die tweede plek.

Freddie Els en Danie du Plessis het onderskeidelik die seniors gros- en nett-afdelings gewen.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version