Sy padwedlope word in kilogramme gemeet

Pine het al aan soveel wedlope deelgeneem dat dit makliker is om die afstand wat hy al afgelê het in kilogram in plaas van kilometers te meet.

As die hardloopgogga byt, byt hy diep en in sekere gevalle byt hy jare lank.

Dit was die geval met Johan “Pine” Pienaar van Ermelo wat reeds 55 jaar lank aan padwedlope deelneem.

Pine het al aan soveel wedlope deelgeneem dat dit makliker is om die afstand wat hy al afgelê het in kilogram in plaas van kilometers te meet.

“Ek weet nie aan hoeveel wedlope ek deur die jare deelgeneem het nie. Daar is te veel om te tel en moeilik om almal te onthou, maar dit is baie.

Ek weet ook nie hoeveel duisend kilometers ek al gehardloop het nie,” het hy gesê.

Om dit te bewys, het Pine sy medaljes en sakwapens gaan haal. Bokse en bokse, sakke en sakke vol, regtig te veel om te tel.

Toe word hul geweeg en die skaal gaan staan op 20,5 kg.

Teen ‘n gemiddelde gewig van minstens 20 gram per medalje en ‘n gemiddelde afstand van 20 km per wedloop werk dit uit op nagenoeg 1 025 wedlope, oftewel meer as 20 000 km wat hy net in wedlope afgelê het.

Dit sluit nie duisende kilometers in wat hy tydens oefening gehardloop het nie.

Pine, nou 76 jaar oud, het in 1960 op Volksrust begin stap om fiks te bly toe hy as jong man sokker gespeel het.

As stapper, het hy het aan twee stapwedlope van 50 km en twee van 20 km in Johannesburg deelgeneem, maar ‘n vriend het hom later oorreed om te begin draf.

Sy eerste padwedloop was ‘n 42 km-marathon en, soos die meeste hard-lopers, het hy die fout gemaak om in die begin te vinnig te hardloop.

“Maar ek het die wedloop voltooi,” het hy gou bygevoeg.

Dit was toe dat die gogga hard en sekuur gebyt het.

Sedertdien het hy aan verskeie marathons, ultra-marathons en padwedlope oor die lengte en breedte van die land deelgeneem, insluitend die Comrades Marathon, die Twee Oseane, Loskop, Voet van Afrika, City to City, Arthur Cresswell en Harrismith Bergwedloop om net ‘n paar te noem. Tientalle korter wedlope en pretdrawwe is ook op sy kerfstok.

Baie van die wedlope het hy verskeie kere voltooi.

“Ek het al tot aan drie wedlope oor 10, 15 en 21 km op ‘n naweek deelgeneem,” het hy vertel.

Om by al die wedlope uit te kom, het hy al duisende kilometer per motor, bus, vliegtuig en trein gereis en van die staaltjies wat baie hardlopers oorkom, het hy ook beleef.

“In een wedloop het ek my skoene uitgetrek want hulle het my voete seergemaak. Naby die eindpunt het ek hulle weer aangetrek, want ek wou nie kaalvoet oor die wenstreep hardloop nie.
“Ek het ook op ‘n keer by ‘n wedloop agtergekom my hardloopbroekie lê by die huis.
“Dit het soebat gekos om die wedloop-skeidsregter te oorreed om my toe te laat om sonder volle klubklere aan die wedloop te mag deelneem.”

Die afgelope drie jaar het hy nie aan baie wedlope deelgeneem nie en verlede jaar slegs aan twee 21 km-wedlope.

“Dit het duur geword om by alles uit te kom. Brandstof, tolgeld, verblyf en selfs inskrywingsgeld het aangehou styg. Mens kan nie meer so baie rondreis nie. Maar ek draf nog so nou en dan net om fiks te bly,” het hy bygevoeg.

Verder hou hy hom sedert sy aftrede by Transnet besig met tuinwerk en versorg ook sy honderde eksotiese voëls.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version