Local sportSchool sportSport

Liggies blus Hoogies se vlam

Ligbron te sterk vir Hoërskool Hoogenhout.

Ligbron Akademie vir Tegnologie se rugby- en hokkiespanne het verlede Woensdag teen Hoërskool Hoogenhout in die eerste Puma-ligawedstryde van die seisoen te staan gekom.

Ligbron, wat op hul tuisveld gespeel het, het al nege rugbywedstryde en al vyf hokkiewedstryde teen die Hoogies gewen.

Die oortuigende tellings het getoon dat die skool oor baie diepte in hul sport beskik en doen die skool se status as Superreeks-kampioene gestand.

Die nege rugbywedstryde het ‘n totaal van 250 punte vir Ligbron opgelewer terwyl slegs 47 punte afgestaan is.

Die vyf hokkiewedstryde het aan Ligbron 25 doele besorg met slegs twee doele wat afgestaan is.

In die hoofrugbywedstryd is Ligbron se John Wright Veneers eerste span op die agtervoet betrap, toe Hoogenhout vroeg in die eerste helfte ‘n doel aangeteken het ná ‘n mooi breekslag.

Daarna wou dinge vir Ligbron net nie reg verloop nie, maar danksy goeie verdediging en verspeelde kanse deur Hoogenhout om hul leeue-aandeel van die balbesit in punte te omskep, is daar nie verder punte teen Ligbron aangeteken nie.

Met die rustydtelling op 7-0 is die Liggies kleedkamer toe en die intense spanpraatjie deur Ligbron se afrigter het gesorg dat ‘n begeesterde Liggie-span vir die tweede helfteop die veld gedraf het .

Volgehoue druk, beter balhantering en goeie samespel deur die Liggies het aan hulle drie drieë besorg wat almal verdoel is. Met die telling op 21-7 het die Hoogies egter nie gaan lê nie en in die doodsnikke van die wedstryd ‘n fout deur Ligbron uitgebuit en ‘n doel aangeteken wat die spanning op kookpunt gebring het.

Ligbron kon egter daarin slaag om sy voorsprong te behou en die wedstryd met 21-14 gewen. Drieë is gedruk deur Gert Cronjé (twee) en Eddie Dludlu. Marnus Scheepers het al drie drieë verdoel.

Ligbron se ander wentellings is soos volg: 0/14A: 43 – 7; 0/14B: 15 – 5; 0/15A: 12 – 0; 0/15B: 63 – 0; 0/16 A: 15 – 8; 0/16B: 27 – 0; derdes: 27 – 10 en tweedes: 27 – 3.

Op die hokkievelde het Ligbron die oorhand oor die Hoogies gehad en al die wedstryde gemaklik gewen.

Ligbron se tellings was soos volg: eerste span : 3 – 1; tweedes: 3 – 0; 0/14: 4 – 1; 0/15: 7 – 0 en 0/16:8 – 0.

Die Liggies speel môre (Saterdag) tuis in vriendskaplike wedstryde teen HTS John Vorster van Pretoria.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button