Erries skitter in kwarteindrondes

Die Erries het hul beste vertoning vanjaar gelewer.

Hoërskool Ermelo het verlede Woensdag as gasheer opgetree tydens die kwarteindrondes van Mpumalanga se seunshokkie.
In die eerste wedstryd het die Erries se 0/14-span 5 – 3 met Oosterland afgereken en het gister (Woensdag) teen HTS Middelburg te staan gekom in die tweede been van die kwarteindronde wat in Middelburg gespeel is. Die uitslag sal volgende week gepubliseer word.
Die Erries se 0/16-span is 1 – 2 deur Secunda geklop en die eerste span het met 0 – 1 teen Evander vasgeval.
Saterdag het EHS se dogterhokkiespanne aan die Mpumalanga- uitspeelwedstryde in Volksrust deelgeneem.
Die Errie-spanne het almal uitstekende hokkie gespeel en almal het na die kwarteindronde deurgedring wat eerskomende Saterdag by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier plaasvind.
Die eerste span het Middelburg 3 – 0 geklop en 2 – 0 met die span van Kanonkop afgereken.
Die 0/16A’s het Evander met 6 – 0 en Middelburg met 5 – 0 kafgedraf, terwyl die 0/15A’s Piet Retief 4 – 0 en Hoogenhout 2 – 1 geklop het.
In die 0/14A’s se kragmeting teen Secunda is geen doele aangeteken nie en die span het 1 – 2 teen Ligbron verloor.

EHS-eerstes beëindig wendroogte

Die wendroogte van die Erries se eerste rugbyspan is Saterdag beëindig toe hulle Secunda met 31 – 22 in die kwarteindronde van die Puma-liga geklop het.
In ’n opwindende wedstryd het Danie Kruger se span vier doele en ’n skepdoel teenoor Secunda se twee doele, ’n drie en ’n strafdoel aangeteken.
Die Erries hethul beste vertoning vanjaar gelewer. Hul oorwinning is die resultaat van ’n puik spanpoging. Die hardwerkende voorspelers het volop balbesit gewen en goeie aanvalsgeleenthede vir die gewillige agterlyn geskep.
Secunda was die grootste deel van die wedstryd onder druk, maar het teen die einde ’n insinking in Ermelo se spel uitgebuit en ’n agterstand van 18 punte (10 – 28) na 22 – 28 laat krimp.
’n Skepdoel deur die Errie-losskakel Leon Visser het egter ’n oorwinning buite Secunda se bereik geplaas.
Jooste Nienaber, Jeandre Muller, Coenie van Niekerk en Louwtjie Oosthuizen het die Erries se drieë gedruk en benewens die skepdoel het Leon Visser ook met al vier doelskoppe geslaag.
Nog drie Errie-spanne het Saterdag geseëvier. Die tweede span het Piet Retief met 29 – 0 die loef afgesteek, terwyl die 0/16A’s Rob Ferreira met 50 – 14 afgeransel het.
In ’n uiters spannende wedstryd het die 0/15A’s met 24 – 23 oor Piet Retief geseëvier nadat hulle’n doel in die laaste sekondes van spel aangeteken het.
In die 14A- en die 0/16B-liga is Ermelo deur Secunda en Rob Ferreira onderskeidelik uitgeskakel.
Die Erries se eerste span en die 0/16A’s speel Saterdag (môre) op Secunda teen Standerton in die Puma-liga se halfeindronde, terwyl die tweedes in die Puma-eindstryd ook teen Standerton te staan kom. (CK)

Exit mobile version