BlogsOpinion

{MENINGSTUK} – Koerante sensasioneel?

“Die koerante van vandag is sensasioneel.” Tog is dit die leser self wat ’n mark stig vir hierdie tipe sensasie.

Hoëvelder is ’n gemeenskapskoerant en sodanig moet dit ’n weerspieëling wees van die gemeenskap wat dit bedien.

Die koerant het egter onlangs onder vuur gekom oor die publisering van ’n berig oor ’n vermiste vrou.

Hoe so? Mag jy dalk wonder.

Wêreldwyd word hoofstroommedia en tot ’n kleiner mate, gemeenskapskoerante, as sensasioneel beskou – nie om te sê dat dit in sommige gevalle nie geregverdig is nie. Maar ‘n mens kan hoegenaamd nie almal onder dieselfde kam skeer nie.

Sommige mense skryf die opspraakwekkende toon van hedendaagse nuusdekking verkeerdelik aan álle media toe.

Verslaggewers word gekritiseer omdat hulle die waarheid verfraai om meer koerante te verkoop.

Hierdie wyse van beriggewing bevorder emosionele of bevooroordeelde interpretasies van gebeure eerder as objektiwiteit, en kan die waarheid van ’n storie nie net verfraai nie, maar ook verdraai.

Dit is dus ironies hoe wanneer iemand vermis raak en dan gevind word, mense woedend is omdat die koerante hulle nie oor daardie persoon se doen en late ook inlig nie.

Sommige mense het genoem hoe hulle geregtig voel op sulke inligting, siende dat hulle bekommerd oor die persoon se welstand was.

Indien dit die waarheid is, kan ‘n mens seker aanneem dat hulle ook oor daardie persoon se reputasie besorgd sal wees?

“Die koerante van vandag is sensasioneel.” Tog is dit die leser self wat ’n mark stig vir hierdie tipe sensasie.

Waarom wil jy so graag weet waar die persoon was en waarmee hy of sy haarself/homself opgehou het?

Wat laat jou dink jy het ’n reg op hierdie inligting? Is dit oor jy die “Share”-knoppie gedruk het?

Een van ons lesers het dit baie goed gestel.

Sy kommentaar kom daarop neer dat as jy die nuus oor die vrou se verdwyning versprei het met die hoop dat die sappige besonderhede van die saak ontbloot sou word, jou motiewe van meet af aan ietwat bedenklik was.

As elke private en sensitiewe detail van jou lewe aan die hele dorp bekendgemaak gaan word, sou jy steeds wou hê dat die gemeenskap moet saamtrek en jou in ’n tyd van nood help? Sekerlik is ons dit eens dat dit ’n bietjie te dik vir ’n daalder is.

Laat jou sogenaamde reg om te weet nie groter wees as jou deernis teenoor iemand wat deur moeilikhede gaan nie.

Related Articles

Back to top button