Kom ons stop ons R2-redenasies

Hoeveel verflenterdes het ek nie soos ’n hond weggejaag oor hul aanhoudend by my venster kom bedel nie? “Ek sukkel self man!”, “Verstaan jy nie ‘nee’ nie?”, “Hoekom gaan soek jy nie werk nie?”, “Nie vandag nie, hoor?”.

Ek vat vanoggend bietjie Skrif en maak op Jakobus 2 oop.

Opnuut besef ek hoe arm ek is. Arm in die Gees.

Vir só lank glo ek opreg in God, maar waar is die werke en wat is my geloof dan sonder werke?

Ek probeer myself oortuig dat die R2 wat ek periodiek aan ’n karwag of hawelose gee, goeie werke is, maar is dit?

Nee. Met daardie R2 koop ek gemoedsrus, wat ’n goedkoop redenasie.

Hoeveel verflenterdes het ek nie soos ’n hond weggejaag oor hul aanhoudend by my venster kom bedel nie?

“Ek sukkel self man!”, “Verstaan jy nie ‘nee’ nie?”, “Hoekom gaan soek jy nie werk nie?”, “Nie vandag nie, hoor?”.

Dan vat ons dit so stappie verder en probeer sagkens ons optrede regverdig en gewete sus deur te sê hy/sy gaan net aan die suip raak óf sy verslawing voortsit.

Dit is tussendeur dié gedagtes en beseffing, dat ek wonder…

Die dag as my tyd kom en ek as verflenterde voor God staan, gaan Hy dalk sê: “Nie vandag nie, hoor?,” en as ek soebat en op my knieë staan en die skille van my oë afval en smeek, gaan Hy dalk ook vir my sê: “Verstaan jy nie ‘nee’ nie?”.

In dié tyd wat ons almal onseker is oor wat môre vir ons inhou, vra ek jou, indien jy soos ek ook R2-redenasies met jouself voer, dat jy weer introspeksie doen.

Daai af-en-toe-se liefdadigheid van R2 vir gemoedsrus, gaan nie die Koninkryk van God se deure vir jou oopswaai nie.

Mag die vers jou vandag motiveer om ’n beter weergawe van jouself te wees:

 Johannes 15:12 – Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Exit mobile version