Raak ons nie ’n bietjie te sensitief nie?

Nou hoor ek al klaar “Ja, sex sells”, seker só tannie, maar ons is ’n gratis koerant...

Raak ons nie ’n bietjie TE sensitief nie?

Sy was in ’n laehals toppie geklee wat driekwart van haar borste ontbloot het, ’n purperrooi rokkie, glo haar aldag pluiens en bo-oor die stoutmoedige uitrusting, ’n uitgestrykte slootjas.

Dit was die foto van ’n beweerde ‘prostituut’ wat op die Hoëvelder se webtuiste op 17 September verskyn en sommiges se tonge in betugtiging laat klap het.

Ek het na ’n paar opmerkings op Facebook gaan kyk en my nadenke met ons besluit om die ‘stoute’-tannie se foto te plaas, weer bedink.

’n Soortgelyke artikel is deur die Hoëvelder op 27 Augustus gepubliseer waar 17 vermeende prostitute in hegtenis geneem en kort daarna weer vrygelaat is.

Ook is dié berig aanlyn gepubliseer, maar met ’n ‘veilige’ argieffoto van ’n afgeskorte misdaadstoneel.

Vreemd genoeg, is dié laasgenoemde berig skaars gelees en was daar maar minimale interaksie.

Nou hoor ek al klaar “Jaaa, sex sells”, seker só tannie, maar ons is ’n gratis koerant…

Ek staan soms oopmond in verwondering as ek die jongste nuus oor menseregte lees en besef dan opnuut dat ons deel vorm van die polities-korrekte-kultuur of die meer bekende “PC-culture”, soos die Engelse dit noem.

Daar is seker nie fout met polities-korrektheid nie, solank daar dan deur die bank dieselfde waardes en beginsels toegepas word.

As jy bekommerd oor jou bloedjie se onskuld is, stel ek eerstens voor dat jy die televisie deurentyd afskakel en tweedens sy/haar foon iewers vêr wegbêre, want met die toegang wat die jeug vandag tot die internet het, hoort die sogenaamde ‘stoute’-tannie in die Hoëvelder, jou nie saans wakker te hou nie.

Dink jouself die volgende scenario in, indien ons ’n foto van ’n model met tweestukbaaikostuum geplaas en gesê het, “Skryf in en wen ’n vakansie na Mauritius!” sou daar waarskynlik nie ’n piep gewees het, afgesien van Susan wat vir haar man sou sê dat die model nie in dié prys ingesluit is nie.

Dis die assosiasie met die donker-dade wat saans deur dié ‘stoute’-tannie uitgevoer word, wat jou hare moet laat rys, nie die publisering van haar foto nie.

Dis die feit dat onheil se stem basuin in die strate waar jou kinders behoort veilig te speel, wat jou woedend moet maak.

Realiteit het soms die neiging om lelik op sommige mense se oop senuweepunte te druk.

Empatie het ’n mens met werkloosheid, geen heenkome en en en… maar, en dit is n GROOT maar – baie van dié ‘straatligdames’, verkies om maklik en vinnig ’n paar rand te maak.

Dit is soms belangrik dat iemand jou tot in jou fondasie skud sodat jy nie van die realiteit om jou vergeet nie.

Mens moet deesdae só versigtig wees, nie net met wat jy sê nie, maar selfs hoe jy dit sê.

Dink jy nie ons het ’n bietjie te sensitief begin raak nie?

Soms is dit nodig om die skalpel te neem en die sweer oop te kloof, seer, maar noodsaaklik.

Wat is ons nóg bereid om liefs te aanvaar sodat niemand te na gekom word nie?

Exit mobile version