BlogsOpinion

Daar is feministe en dan is daar feminisTE

’n Kollega van my se ma het tereg gesê as jy ’n ‘te’ voor of agter enige iets sit, kan jy maar weet dit gaan katastrofiese resultate oplewer.

Omdat ek ’n voorstander van vroueregte is, het my vrou die reg om enige ander dag as Saterdag tydens die Rugby Kampioenskap met my te gesels oor wat ookal haar hart van vol is.

Dit is vroue-maand en ons mans het mos maar altyd so ietsie, om tong in die kies, daaroor te sê.

Ek voer so drie maande gelede ’n onderhoud met ’n joernalis wat aansoek gedoen het vir ’n vakante pos hier by die Hoëvelder en dié kandidaat het vertel dat sy ’n feminis is.

Ongemaklik skuif ek in my stoel rond en luister hoe sy met oorgawe babbel en braak oor vroueregte, gelykheid en en en…

Sy is aangestel nadat ek besef het dat sy nie ’n ekstremis is wat my lewe sou hel maak nie.

’n Kollega van my se ma het tereg gesê as jy ’n ‘te’ voor of agter enige iets sit, kan jy maar weet dit gaan katastrofiese resultate oplewer.

Vir my is daar ’n fyn lyn tussen feministe en feminisTE en die laasgenoemde tannies maak my naar.

Ek raak opgewonde wanneer my vrou haar stempel in die werksplek afdruk, trots as sy bevorder word en selfs finansieel meer as ek verdien, verstaan mooi, ek verwys deurgaans na feminsTE.

Feministiese aktiviste het in die 60s en 70s protesoptredes uitgevoer, later gegradueer, boeke geskryf, departemente gestig, konferensies gehou, politieke organisasies gestig, geldinsamelings geloods en tydskrifte begin en gou was feminisme nie meer ’n ideologie vir dié mense nie, dit was hul loopbaan.

Hul salarisse en departemente was van patriargie en onderdrukking afhanklik.

Dus moes en moet hul aas op enige iets wat effens voldoen aan die kriteria van ongelykheid en onregverdigheid om hul beweging aan die gang te hou.

As jong seun is ek geleer om die deur vir ’n vrou oop te maak en dat sy eerste moet instap, ’n man slaan nie aan ’n vrou nie en ook dat jy twee sakdoekke in jou broeksakke moet dra, sou jy dalk ’n tranetrekker saam met jou vrou/meisie gaan kyk of begrafnis bywoon, dat jy een byderhand het sodat sy die soutwater kan opvang.

Dié geloofstelsel is in jou binneste ingrafeer net om ’n paar jaar later deur sommiges vertel te word dat hul nie ’n man nodig het om ’n deur vir hul oop te maak nie.

Wanneer ek die drang van heethoofdiges na eenvormigheid en gelykheid merk of met ’n feminis wat wil debatteer te doen kry, besoek ek graag my gunsteling voorbeeld, indien ons gelyk is waarom wil vroue-tennisspelers dieselfde betaal word as hul manlike eweknie wanneer hulle nie dieselfde aantal stelle wil speel nie?

As jy staan vir feminisme, staan jy sekerlik vir regverdigheid in alle fassette of hoe?

Ons is biologies anders aanmekaargesit, waarom daarteen baklei?

Glo ek dat daar ongelykheid op verskeie gebiede, teistering, bevooroordeling is? Ongetwyfeld en dit moet stop.

Hou ek egter meer daarvan om op SuperSport na Nick Mallett te luister as na Elma Smit of Motshidisi Mohono, ja ek doen, moet nie aanstoot vind nie dis ’n voorkeur.

Ek is ’n voorstander van vroueregte, ek is nie ’n voorstander van fanatiese vroue wat mans wil onderdruk sodat hul beter kan voel oor hulself en die rol wat hul in die samelewing moet vervul nie.

My vrou aanvaar my as die hoof van die huishouding, sy is g’n slaaf nie.

Ons het wedersydse respek, die wondergom wat alles aanmekaar bind, ons is tradisioneel met ingebore waardes en ons is nie van plan om te verander oor ’n paar nors tannies nie.

Die beweging wat voorheen progressief was, word regressief.

FeminsTE is só besig om mense se gedagtes, optrede en opinies te polisieër dat hulle nie meer weet waarvoor vrouemaand en vrouedag werklik staan nie.

Oukei, ek het nou my sê gesê oor feminisTE, ek wil egter aan die ware aktiviste en elke vrou en in besonder al die mammas ’n wonderlike vrouemaand toewens.

Mag julle elke mylpaal wat jul vir julself stel, moeiteloos behaal en selfs oortref.

Related Articles

Back to top button