Editor's noteOpinionTerloops

Sit ’n veer in jou hoed en geniet Vrouemaand

Vroue vervul deesdae 'n dubbele rol en meeste vroue werk buitemuurs en dra finansieel by tot die huishouding.

Augustus is Vrouemaand.
Oral word daar geleenthede gereël om Vrouedag en sommer die hele maand te vier.
Teetafels word gedek en vroulik versier en sprekers word genooi om te deel in die vieringe.
Ek het vir lank stil gesit en gewonder hoe ek my vrouwees en die maand wat daaraan toegesê is, gaan vier.
Ek het besluit om nie net vir Augustus nie, maar vir altyd, my bydrae te maak deur die beste ma, vrou, vriendin en kollega moontlik te wees.
Dis eintlik ‘n groot voorreg om ‘n vrou te wees.
Saam met vrouwees kom ‘n hele paar ander dinge wat elke dag sin aan die lewe gee.
Om ‘n ma te wees, bly vir my een van die wonders van die wêreld en ek sê elke dag dankie vir die voorreg wat ek gehad het om drie kinders die wêreld in te bring en met genade en hulp van Bo groot te maak.
Ek probeer ook om die beste vrou moontlik vir my man te wees en nie my vriendskappe met kosbare vriendinne te verwaarloos nie.
Sosiale netwerke en mediaberigte herinner ons elke dag hoe mense binne sekondes uit die lewe weggeruk word en daarom is dit belangrik om mekaar te koester en soveel tyd moontlik saam deur te bring.
Vrouwees beteken nie net dat jy nie spinnekoppe hoef dood te maak of uit te gaan in die donker nie.
Vroue vervul ook die rol van die emosionele versorger van die gesin en die dae van mans wat werk en geld verdien en vroulief bly tuis om kinders op te pas, is lankal verby.
Vroue vervul deesdae ‘n dubbele rol en meeste vroue werk buitemuurs en dra finansieel by tot die huishouding.
So, vir Augustusmaand sit gerus ‘n veer in jou hoed en vier jou vrouwees.
Dis mos lekker om ‘n vrou te wees.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button