OpinionTerloops

Ons kinders speel blykbaar nie meer in die buitelug nie

Ek onthou nog so goed hoe ons as kinders saans nog speletjies in die straat gespeel het tot dit begin donker word het.

Ek het gister ‘n draai deur Ermelo en Cassimpark gery.

Slegs by een speelpark in die dorp en op die sokkerveld in Cassimpark het ek kinders buite sien speel.

Ons kinders speel blykbaar nie meer in die buitelug nie.

Dit was glad nie buitengewoon koud nie en die son het lekker geskyn, maar blykbaar verkies die kinders om binneshuis te bly.

Sosiale netwerke en televisie is volgens die jong kinders met wie ek gepraat het r die rede dat hulle nie meer balle wil rondskop of speletjies buite die huis speel nie.

Ek onthou nog so goed hoe ons as kinders saans nog speletjies in die straat gespeel het tot dit begin donker word het.

Groot groepe van ons het selfs krieket met ‘n asdrom vir paaltjies in die straat gespeel.

Die speelpark was ‘n gewilde bymekaarkomplek en die swaaie en rondomtalies het oortyd gewerk.

Selfs my eie kinders het nog fiets gery en saam in groepe gespeel.

Ek weet tye het verander en dat daar baie gevaar rondom ons skuil en dat dit nie vir kinders meer veilig is om in die strate te wees nie, maar vir my bly dit belangrik dat kinders nog moet speel.

Ek glo kinders speel wel nog in hul agterplase en dat ek dit nie vanuit my motor in die straat kon sien nie, maar selfone en i-pads of tablette geniet beslis voorkeur.

Selfs volwassenes is gedurig besig om sosiale netwerke te besoek om whatsApps op hulle fone te lees, terwyl ander mense probeer om ‘n gesprek met hulle te voer.

Ek was onlangs in ‘n geselskap met ‘n groep van agt mense van wie ses voltyds op hul fone besig was.

Ek het maar later moed opgegee en televisie gekyk.

Ek kan nie ander mense voorsê wat om te doen nie, maar vir my sal dit lekker wees as selfone, tensy daar ‘n belangrike oproep verwag word, tydens kuiers in die hand- of broeksakke gelos word en soos in die goeie ou dae net weer lekker gekuier en gesels word.My foon het nou drie keer gepiep terwyl ek getik het.

Ek sal seker maar gou moet kyk wie my gesoek het.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button