OpinionTerloops

Die platteland is paraat

Dit is maklik om die "stadige" of "agterlike" mense op die platteland te beroof, wetstoepassers te vermy en dan te vlug na die groot sentra om tussen die massas te gaan wegkruip.

Met die onlangse gebeure in die dorp waar ‘n gewapende rower met sy lewe geboet het en nog een aangekeer is nog vars in die geheue, het ‘n soortgelyke voorval die afgelope naweek in die omgewing plaasgevind.

Dié keer is twee vermeende rowers noodlottig gewond en nog twee in hegtenis geneem.

Die gebeure laat talle vrae ontstaan en mens wonder hoekom die platteland geteiken word. In dié en ander voorvalle in ons omgewing het dit aan die lig gekom dat die misdadigers van stede in Gauteng en ander provinsies afkomstig is.

Dit is maklik om die “stadige” of “agterlike” mense op die platteland te beroof, wetstoepassers te vermy en dan te vlug na die groot sentra om tussen die massas te gaan wegkruip.

Of so dink hulle.

Die platteland se mense is gewone mense, net soos die stedelinge en nie ‘n vreemde spesie wat van ‘n ander planeet afkomstig is nie. Ons dink, eet, beweeg en leef net soos ons stedelingbroers en -susters.

Ons polisie, veiligheidsinstansies, buurt -en plaaswaglede is ook wakker, helder denkende mense wat al keelvol is vir misdaad. Hulle oë en ore is wawyd oop en soos in die genoemde en ander voorvalle bewys is, staan hulle gereed om die misdadigers sonder huiwering aan te vat.

Ons “stadige” plattelandse mense het stelsels in plek en hulle werk goed. Ons het nou al in die onlangse verlede ‘n paar keer gesien hoe goed hulle werk.

Soos ‘n omstander by die onlangse voorval in die drop gesê het: “Laat dit vir die rowers ‘n les wees. Hulle wil mos hier kom nonsens maak.”

Nou ja, laat dit vir hulle ‘n les wees.

Related Articles

Back to top button