OpinionTerloops

Daar is niks om te doen nie

Die ou "Laan" se storielyn is deesdae so dun ’n mens kan al daarmee baard skeer!

Ons wat hier op die platteland woon en werk, het nou eenmaal ’n agterstand as dit by vermaak en selfs ontspanningsaktiwiteite kom. Ons kan nie kers vashou nie by die stadsmense wat ’n wye keuse het van “dinge om te doen,” veral oor naweke.

Weens die sodanige tekort aan “dinge om te doen” hier op die platteland, is baie mense aangewese op kanaaltelevisie om ’n mate van vermaak aan ’n vervelige naweek of aandjie te verleen. Vir dié wat nie oor sulke luukshede beskik nie is die naweke en aandjies tuis bra vervelig.

1, 2, 3 en E verskaf nie juis opwinding om oor huis toe te skryf nie.

Ai, en die ou “Laan” se storielyn is deesdae so dun ’n mens kan al daarmee baard skeer!

Daarom was dit vir my verblydend om te sien hoe die toeskouers stadig maar seker terugkeer na die AJ Swanepoelstadion as ons plaaslike rugbyspanne wedstryde hier speel.

Nou nie in hul duisende soos by Loftus Versveld nie, maar wel in groepies wat die middag in die opelug langs die motor uitkamp, rugby kyk en ’n vleisie braai.

Nou ja, lyk my Loftus het ook nie meer duisende toeskouers nie, maar wel ’n hele paar honderd.

Aan die teenoorgestelde kant is dit so dat as daar wel iets op die dorp aangebied word, word die geleentheid nie baie goed ondersteun nie.

Daar is seker redes hiervoor, maar ons moet onthou dat alles nie altyd in almal se smaak val nie en in die stad is daar baie meer mense wie se smaak verskil.

Kan ons nie maar hier op die platteland weer ’n smaak ontwikkel vir die gesonde buitelewe en ons sportvelde weer volpak en ons plaaslike sportmanne en -vroue ondersteun nie, bloot net deur ons teenwoordigheid?

Dit geld natuurlik ook kunsmarkte, musiekvertonings en ander aktiwiteite wat plaaslik aangebied word.

Dis tog baie meer opwindend as die Laan, of hoe?

Related Articles

Back to top button