OpinionTerloops

“Eet”tiket by die werksplek

Al te dikwels kry 'n mens te doen met iemand wat tot in hul werksplekke "meth kosh innie mond met kliënte prawt".

Een van die eerste “moenies” wat aan ons as kinders geleer word, is “moenie praat met kos in jou mond nie”.

Dié wyse woorde is sekerlik in toeka se tyd ingestel om te keer dat boetietjie nie die helfte van sy maaltyd oor pappa die koning se feesmaal uitspoeg wanneer hy wel toegelaat is om aan tafel te praat nie. Die skielike hoesbui met ‘n mond vol groenertjies of halfgekoude fisantvleis was sekerlik verskoonbaar.

Dit wil egter voorkom of dié reël nie meer aan alle kinders geleer word nie, want al te dikwels kry ‘n mens te doen met iemand wat tot in hul werksplekke “meth kosh innie mond met kliënte prawt”.

Ongelukkig kom ‘n mens dié onaangename verskynsel al te dikwels by sakeondernemings en werksplekke teë waar die publiek bedien word.

Dit is verstaanbaar dat nie almal huis toe kan gaan vir etenstyd om daai honger pyne te stil nie en ‘n mens word tog lus om aan ‘n ietsie te pik tydens werkstyd.

Om by ‘n sakeonderneming bedien te word waar die ontvangspersoon met elmboë op die toonbank sit en aan sappige hamburgers smul terwyl jou navraag met min belangstelling tussen die geslurp deur beantwoord word, is nie juis aangenaam nie.

Nog minder aangenaam is om oorblyfsels van kos of vetkolle te ontdek op dokumente wat aan mens uitgereik is.

Om woordeloos deur toonbankpersoneel bedien te word terwyl daar vir ’n plek in die eerste span aan kougom gekou word, is ook ‘n frons of twee werd.

Goeie etiket vereis dat daar in afsondering en uit die oog van die publiek geëet word by die werkplek.

Of is etiket nou “uit” en “eet”-iket nou “in”?

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Ridge Times and Standerton Advertiser.

For more news and interesting articles, like us on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Related Articles

Back to top button