OpinionTerloops

Oor krag en kragwoorde

Vandag se oupas en oumas wat in dorpe en stede woon, bly nie koel en kalm as die krag afgesny word nie.

Die “strafbare kragonderbrekings” waaraan ons hier in Msukaligwa blootgestel word, laat baie mense warm onder die kraag.

Al die rondspringery agter kerse, sonkraglampies en selfoonflitsligte aan (onthou julle die ou “torches”?) laat my dink aan my baie jong dae as ‘n kuierkannetjie op my oupa en ouma se plaas in die Vrystaat.

Ek weet nou nie of ek destyds te jonk was om te weet waaroor boerdery eintlik gegaan het of ek nóu al te oud is om te onthou nie, maar ek dink amper Oupa en Ouma het met gesaaides geboer. Wat ek wel weet, is dat daar net een melkkoei en een hansskaap op die plaas was.

Daar was nie elektriese krag op die plaas aangelê nie, maar dit het ons kuierknapies van die stad af geensins gepla nie. Dit was hoe dit was op plase, het ek kinderlik geglo. Plase het nie elektriese krag nie en die mense het hulle eie lig gemaak.

Ons kinders het elke oggend en elke aand beurte geneem om die primuslampies te pomp of die paraffienlampies, Tilly-lampe en Colemans met lang vuurhoutjies aan te steek. Die lang wag vir die water om te kook op die koolstoof sodat ons kon bad, was iets uit die “movies”.

Die paraffienlampie wat in die vensterbank gebrand het, het stilweg toegekyk as Ouma die dag se rondrits en vuilword agter ons ore skoongeskrop het.

Ja, dit was lekker kommervrye tye daar op die plaas sonder elektrisiteit. As die wind die kerse of lampie doodgeblaas het, het Oupa kalm gesê: “Bring die vuurhoutjies” en sonder enige kragwoorde die vlammetjie weer laat brand.

Vandag se oupas en oumas wat in dorpe en stede woon, bly nie koel en kalm as die krag afgesny word nie.

Hulle praat in tale wat nie hier geskryf kan word nie.

Ek weet, want ek is een van hulle.

Related Articles

Back to top button