Wie mors met ons taal?

Die bekgevegte en beledigings, kompleet met kru taal en spelfoute wat soms op Facebook en Whatsapp rondgeslinger word, is tog baie meer sappig as 'n nuusbulletin of koerant, of hoe?

Die koms van die moderne tegnologiese era het die wêreld beslis onherroepelik verander.

Dit is so dat die jonger geslag hulle nie ‘n lewe kan indink sonder allerhande elektroniese fieterjasies en gedoentetjies nie.

Selfs ons wat onder die ouer geslag gereken word, sal beswaarlik daarsonder kan klaarkom.

Die gebruik van ‘n slimfoon en tablet, byvoorbeeld, het vir Jan en alleman alledaags geword en het in baie gevalle die lomp ou kastipe rekenaar vervang.

Die verspreiding van nuus en nuusgebeure vind deesdae ook letterlik teen die spoed van lig plaas.

Maar het ons nie alreeds ‘n te duur prys vir dié gerief betaal nie?

Oom Google het gesorg dat biblioteke al minder besoek word, boekwinkels trek noustrop, en daar word in baie gevalle nie eers meer na leersame radioprogramme geluister nie. Daar is ‘n groot verskil tussen na opbouende, interessante radioprogramme te luister en bloot op ‘n musiekstasie in te skakel en die radio in die agtergrond te laat speel.

Met die skakeling tussen mense op sosiale platforms soos Facebook, Whatsapp en Twitter het nuusbulletins vir baie mense oorbodig geraak.

Die bekgevegte en beledigings, kompleet met kru taal en spelfoute wat soms op Facebook en Whatsapp rondgeslinger word, is tog baie meer sappig as ‘n nuusbulletin of koerant, of hoe?

Dit alles bring mee dat mense se lees- en spelvaardighede veel te wense oorlaat. Die siening van “Ag, jy weet wat ek bedoel”, word dikwels geopper wanneer die korrekte gebruik van “ek waardeer” en “ek waardeur” aan iemand uitgewys word.

Ons kerm en kla as die owerhede enigsins met ons taal wil karring en ons slegs met Engels te doen kry in die staatsdiens en sakewereld, want “hulle mors met my taal”.

Maar is ons nie self besig om toe te laat dat sosiale media ons greep op ons taal verswak nie?

Ek vra maar net.

Exit mobile version