OpinionTerloops

Ai, die Kersseisoen.

Dit is weer "daai" tyd van die jaar, die Kersseisoen. In sekere kringe word dit die "lawwe seisoen" genoem.

Mense, het ek nou die gesukkel om geld by die OTM’s in die dorp te trek! Dis nou Outomatiese Tellermasjiene – vir dié wat altyd gewonder het waarvoor OTM staan.

Ek ry van een OTM na die ander en elkeen spoeg vir my dieslfde boodskap uit: Onvoldoende fondse / insufficient funds! Toe kom die werklikheid hard en duidelik na my toe en ek dink by myself: “Kyk, as die banke nie eers meer geld het nie, gaan dinge vir seker beroerd in ons land!”

Ek hoop van harte dat hulle gou weer geld sal inkry om in die masjiene te sit.
Alle grappies op ‘n stokkie.

Dit is weer “daai” tyd van die jaar, die Kersseisoen. In sekere kringe word dit die “lawwe seisoen” genoem.

Daar word herwaarts en derwaarts geskarrel om “dinge” reg te kry voor Kersfees en duisende Rande word uitgegee op kos, geskenke wat een of twee keer gebruik gaan word en dan later in die jaar op die kerkbasaar se witolifanttafel beland, en ook aan vakansieverblyf vir die gelukkiges, waar geld vrylik uitgegee word.

Vroeër het ons gesê geld word “soos water” uitgegee, maar water is deesdae maar skaars .

Kort op die hakke van Kersfees volg die Nuwejaarsviering en, mensig, hier kan sommige mense só uithaak asof hulle vir die eerste span wil uitdraf! Die hoeveelheid “voggies” wat by drankwinkels uitgedra word laat mens wonder of die aptekers ‘n dankiekaartjie stuur vir die bottelstooreienaars.

Dis nou om dankie te sê vir al die hoofpynpille en bruistablette wat hulle in dié tyd van die jaar verkoop.

Só gaan die mensdom elke jaar aan en as ons weer sien, kom ons werklik in Januarie, Februarie en Maart dikwels voor OTM’s wat “onvoldoende fondse”-boodskappies uitspoeg.

Ek vertrou dat dié lighartige blik op die Kersseisoen nie ernstig opgeneem sal word nie en dat ons almal wat onsself Christene noem weer ‘n slag sal besin oor die ware betekenis van Kersfees.

Dit hoef nie uitgespel te word nie.

Ons kan elkeen introspeksie doen en in stilte opreg daaroor besin.

Related Articles

Back to top button