OpinionTerloops

Aan die neus gelei

"Jingle Bells" maak homself ook weer hoorbaar in al wat 'n winkel is.

Toe ons weer sien is die jaar amper verby. Sommer net-so het November aangebreek en planne word in plek gesit vir die komende vakansiesoen, jaareindonthale word beplan en die winkels word in Kersfeesdrag getooi.

Ons weet almal dat uitstallings in die winkels noukeurig beplan en gerangskik word om die moeë en gefrustreerde mammie meer geld te laat uithaal as wat sy wou, net om die neulende kindertjies stil te kry.

Pryse word in sekere gevalle verhoog omdat hulle weet verbruikersbesteding styg heelwat in die vakansieseisoen.
“Jingle Bells” maak homself ook weer hoorbaar in al wat ‘n die winkel is totdat Pa dit nie meer kan vat nie en reken hy gaan skree as hy daai liedjie weer een keer moet hoor. Maar hy skree nie en hier amper by Kersfeestyd sal hy die Christmas with Boney-M CD uithaal en op sy beurt die huisgesin rasend hê met onophoudelike Kersfeesmusiek.

Maar voordat ons daar kom, is daar ander dinge waarmee ons, die arme verbruiker, verlief moet neem of aan blootgestel word.

Onmiddellik dink ek aan die brandstofprys wat gewoonlik in dié tyd aansienlik styg, want hulle wat die slim kêpsies dra, weet die Verbruiker-gesin wil op vakansie gaan en daar gaan gereis word. Uithaal en betaal is maar die voorland, want hoe sê mens vir klein Pietie: “Ons gaan nie meer met vakansie nie – die brandstofprys is nou waaragtig te hoog!”

Saam met die brandstofprys styg vleispryse, melkpryse en vele ander kommoditeite wat in aanvraag is en daai bonustjek lyk skiellik soos laas Vrydag se partytjieballon – pap, vaal en lusteloos.

Ná alles kom ons weer Januarie by die werk aan en vertel almal van die lekker ruskans wat ons geniet het.

Maar nogtans sal ons dit vir niks wil verruil nie en ons word jaar na jaar vrywillig aan die neus gelei deur hulle wat die slim kêpsies dra – en ons geld vat.

Related Articles

Back to top button