OpinionTerloops

Spiekeries, Fortune en Ef-empies

Met die Curriebeker-eindstryd wat dié naweek beslis word, kan ek nie anders nie as om terug te dink aan die dae voor televisie ons lewens oorgeneem het.

Met die Curriebeker-eindstryd wat dié naweek beslis word, kan ek nie anders nie as om terug te dink aan die dae voor televisie ons lewens oorgeneem het.

Ja, vandag se jongmense kan amper nie glo dat daar op ‘n tyd nie so iets soos televisie was nie.

Ons huishouding beskik nie oor die luuksheid van skottel-TV nie, dus is die regstreekse beeldsending van rugbywedstryde ons nie beskore nie. Maar ek kla nie.

Dit laat my terugdink aan die dae toe ek nog kind was in my ouerhuis. Die kommentators het sein lewende lywe by die wedstryde gesit om die aksie te beskryf en in baie gevalle was daar nie afskortings tussen die sitplekke van die verskillende nuusmedia se mense nie.

Ek onthou ou Spiekeries, Gerhard Viviers, wat elke nou en dan gekla het oor die luidrugtige gebabbel van die oorsese kommentators wat “uiters steurend” was terwyl hy gerieflikheidsonthalwe vergeet van sy eie soms luidrugtige opgewondenheid.

Wie sal ooit kan vergeet van sy opgewonde kommentaar toe Syd Nomis daai pragtige drie gedruk het?

“Daar trek hy! Sydie!, Sydie!, Sydie!” het hy geskreeu en ons kon in ons geestesoog sien hoe druk Sydie sy drie asof dit ‘n regtreekse televisiebeeldsending was.

‘n Ander kommentator wat, in teenstelling met ou Spiekeries, vir baie mense ietwat pynlik was om na te luister, was die Engelse krieketkommentator Charles Fourtune met sy stadige en statige hoog-Engelse aksent. Hy sou soms alles beskryf en oor alles praat behalwe oor dit wat op die veld aan die gang was. My pa sou kort-kort na die radio toe draai en sê: “Oh, get on with it, man!”

Nou- ja, terug by die hede. Saterdag sal ek weer die ou dae in herrinnering roep en soos ‘n wafferse Ben, van Ben, Babsie en familie, die Ef-empie teen die oor druk en die wedstryd in my kop kyk.

Oor wie gaan wen, is daar by my nie twyfel nie. My span, natuurlik!

Related Articles

Back to top button