OpinionTerloops

Dis tyd vir moue oprol

Dinge sal nie meer sommer net so aanvaar word nie. Die kruisie is getrek en die merkie in die sand is gemaak.

Met die pasafgelope munisipale verkiesing nog vars in die geheue, sal die publieke oog met verwagting en hoop op die nuut-verkose raadslede gefokus wees.
Of sal dit?

Het ons nie dalk al ‘n punt bereik waar ons vir mekaar sê: “Ag, wat sal dit help? Die nuwe besems sal tog nie skoonvee nie. Dinge sal ook nie verander nie!”

Die skrik op die lyf wat deur sommige hooggeplaastes (met die klem op “geplaas”) gehaal is en hier en daar dié wat hulself hoog opgewerk het, sal dinge van nou af in ‘n ander rat plaas, of altans so glo ek.

Waar daar laks gelê is en dinge toegelaat is om vervalle en vergete agteruit te gaan, sal hopelik deur die nuwe besem raakgesien en reggestel word, net om die ou hand ‘n punt te bewys.

Indien die ou hand nog daar is, kan hy of sy maar weet: die nuwe besem wag net om te wys hoe dit gedoen moet word.

Te midde van al die woelinge en mismoedigheid van sommige mense, kan ons maar weet dat die kiesers, links, regs of in die middel van die politieke spektrum, ‘n duidelike boodskap aan die owerhede gestuur het.

Dinge sal nie meer sommer net so aanvaar word nie. Die kruisie is getrek en die merkie in die sand is gemaak.

Het ‘n sekere man wat in die bediening gestaan het nie al voorheen ‘n waarskuwing gerig nie?
Nou toe-toe nou!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button