As mens alles verloor

Twee vernietigende huisbrande het binne twee dae in Ermelo baie hartseer en verdriet vir die onderskeie huisbewoners en hulle naasbestaandes meegebring.

Twee vernietigende huisbrande het binne twee dae in Ermelo baie hartseer en verdriet vir die onderskeie huisbewoners en hulle naasbestaandes meegebring.

In die eerste voorval het ses lede van ‘n familie, onder wie twee kleuters, hul lewens verloor in ‘n brand wat Donderdag in die middernagtelike ure in hulle klein woning in Wesselton uitgebreek het.

In die tweede brand het die huisbewoners wel met hul lewens daarvan afgekom toe hul statige woning in Nederlandpark geheel en al in puin gelê is.

Net iemand wat self so ‘n tragedie of verwoestende brand beleef het, sal werklik kan verstaan of saampraat.

Ons kan ons medelye betoon en simpatiseer, ja, maar daai gevoel van absolute hulpelosheid as alles wat ‘n mens besit in ‘n oogwink vernietig word, moet iets verskriklik wees.

Die aardse besittings kan dalk weer met die verloop van tyd vervang word, maar die lewensverlies en herinneringe van goeie tye, minder goeie tye, liefde en teleurstellings, val en opstaan wat in daardie huise beleef is, kan met geen geld teruggekoop word nie.

Foto’s, erfstukke, versamelstukke en sommer net iets wat “myne” was, is nou vir ewig verlore en dit maak ‘n spesiale plekkie in ‘n mens se hart leeg en seer.

Dit is nie vir ons om vinger te wys of blaam uit te deel nie. Dit het gebeur en die horlosie kan nie teruggedraai word nie.

Ons kan net as ‘n gemeenskap hande vat en saamstaan om die slagoffers en hulle families op tasbare wyse by te staan, ongeag wie of wat hulle is. Dit is immers hoe ons ons ware kleure as ‘n gemeenskap behoort te wys.

Wie van ons weet wanneer só iets met een van ons of ons gesinne kan gebeur?

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version