OpinionTerloops

As die hartjie sag is

Ek tjank nie by begrafnisse nie, maar ek tjank as 'n dier iets oorkom.

‘n Dier, veral ‘n troeteldier, het nou eenmaal die vermoë om diep in ‘n mens se hart in te kruip. Só het dit gekom dat dit nou die dag nodig was om een van ons dierekinders van haar pyn en lyding te verlos.

Weens die moontlikheid van ‘n tranedal sal ek nou nie die hondjie se naam hier noem nie, maar dit sal voldoende wees om te sê dat sy reeds 16 jaar oud was, stokdoof en byna blind.

Glad nie ‘n taak wat ek self wou doen nie, want, soos my kinders in die verlede vir my gesê het, ek tjank nie by begrafnisse nie, maar ek tjank as ‘n dier iets oorkom.

Dié keer was ek “braaf” en het die arme ou hondjie self veearts toe geneem.

Die baie gawe en vriendelike ontvangsdame was baie simpatiek en het oor alles en wat nog gepraat om my gedagtes af te lei van dit wat gewag het. Die troos dat daar darem nog ‘n hondekind by die huis is, het ook gehelp.

Dit alles het my laat wonder hoekom die band tussen mens en dier so sterk kan groei.

Vir my is die band reeds as kind ingemessel toe my pa op ‘n dag ná werk op sy motorfiets by die huis opgedaag het met twee klein katjies in sy leerbaadjie se sakke ingedruk.

Die katte het glo by sy werksplek rondgedwaal, toe besluit hy om hulle huis toe te bring.

Van die staanspoor af het hy ons fyn dopgehou en toegesien dat ons die klein katte op die “regte” manier optel, hanteer en versorg.

Die lewenslesse wat ons as kinders geleer het, bly my steeds by en ek raak bitter ongelukkig as ek sien hoe ouers toekyk hoe hul kindertjies ‘n klein hond of ‘n kat aan die nek ronddra en rondswaai. Die diere word ook met stokke geslaan, met klippe gegooi en skrikgemaak tot groot vermaak van ma en pa.

Nou mag ek sê: Liewe ouers! Kyk asseblief hoe jul kindertjies julle diere behandel. Die diere het nie gevra om by julle te kom bly nie. Dit was ons eie besluit en die diere is van dag een af van ons afhanklik.”

Die liefde en versorging wat ons as kinders aan diere bewys, sal weerspieël word in hoe ons met mekaar as grootmense handel en wandel.

Daarvan is ek oortuig.

Related Articles

Back to top button