As geliefdes ver is

Omstandighede in ons land het veroorsaak dat sommiges nie net in ander provinsies, maar in ander lande 'n heenkome gevind het.

My twee oudste kinders bly nou al onderskeidelik 14 en 10 jaar in die Kaap.

Die verlange knaag maar elke dag, maar Sussie wat nog naby is, maak dinge darem bietjie beter.

Dit bly vir my spesiaal as my selfoon piep en daar verskyn ‘n boodskap van een van die kinders op die skermpie.
“Lief en mis jou Moeks” het die mooiste woorde geword en help om die verlange te stil.

Kuiers saam het herinneringe gemaak wat ek bêre en koester wanneer die gemis groot raak.

Al is Sussie in haar kamer besig met haar eie dinge is dit lekker om nog ‘n kind in die huis te hê wat “two minute noodles” eet en kliphard lê en lag vir die video’s op die tablet.

As ek so na haar luister, kan ek nie anders nie as om te dink aan ouers en kinders wat om verskeie redes ver van mekaar moet bly.

Omstandighede in ons land het veroorsaak dat sommiges nie net in ander provinsies, maar in ander lande ‘n heenkome gevind het.

Ek kan darem nog as ‘n krisis opduik vir ‘n spesiale gebeurtenis na twee ure se gevlieg by my kinders wees, maar vir baie is Skype die enigste manier om hul kinders en kleinkinders te sien.

Ek kan nie eers probeer dink hoe dit moet voel om kleinkinders te hê en jy kan nie gereeld dié klein lyfies teen jou vasdruk nie.

Ouboet trou in September en met Sussie wat nou net so amper vier jaar getroud is, hoop ek dat ‘n pienkvoet kort voor lank sy of haar opwagting gaan maak.

In my hart is daar baie plek en in my gedagtes vertroetel ek die kleine mensies reeds.

Ek sien op sosiale netwerke hoe spog my vriendinne met hul kleinkinders se doen en late en hoe deel hulle foto’s van spesiale oomblikke en my hart brand, maar ek is rustig in die wete dat my beurt sal kom.

In my gedagtes brei ek al hard aan die truitjies en mussies en bak ek koekies om aan te stuur.
Kuiers in die Kaap en die woord “Ouma” sal dan ‘n heel ander betekenis hê.

Met of sonder kleinkinders en met kinders ver of naby bly dit ‘n voorreg om ‘n ma te wees.

Ek sê elke dag dankie en dra hulle op aan Hom wat my vertrou het om drie kinders die wêreld in te bring en na die beste van my vermoë groot te maak.

Exit mobile version