As die hoogste prys betaal word.

Ek sal my plig versuim as ek nie 'n lansie breek nie vir die toegewyde manne en vroue in die beskermingsdienste. Ja, ek glo daar is nog baie van hulle wat toegewyd is, so toegewyd dat die hoogste prys soms betaal word.

Die tragiese gebeure in ons dorp die afgelope week het ‘n ongemaklike stilte in menigte vriendekringe laat neerdaal.

Die gevoellose en koelbloedige moord van ‘n veiligheidsman en die skietery op sy kollega het die gemeenskap met afgryse gevul.

Weereens het dit bewys dat die kriminele element wat ‘n skrikbewind in ons en ander samelewings voer vir niks en niemand sal stuit om hulself te verryk nie. ‘n Lewe is vir hulle kleingeld.

Dit is wel nie die eerste keer dat ‘n veiligheidsman met sy lewe betaal het nie; daar was baie voor hom en die naakte waarheid is – daar sal nog wees.

Ek sal my plig versuim as ek nie ‘n lansie breek nie vir die toegewyde manne en vroue in die beskermingsdienste. Ja, ek glo daar is nog baie van hulle wat toegewyd is, so toegewyd dat die hoogste prys soms betaal word.

Dit is gerusstellend om te weet dat daar manne en vroue is wat bereid is om die stryd teen misdaad te stry.

Ons dink nie altyd daaraan nie dat die manne en vroue ook gesinne het wat elke dag vir hulle wag om terug te keer huis toe. Soos met die onlangse geval, kan dit gebeur dat ‘n pa nie huis toe keer nie.

Daarom wil ek, en ek glo ek praat ook namens die hele gemeenskap, ‘n baie groot dankie sê aan elke toegwyde lid van die beskermingsdienste, hetsy in diens van privaat veiligheidsfirmas of die polisie, vir hulle onbaatsugte diens en opoffering.

Dankie vir julle toegewydheid en ywer. Ons waardeer julle elkeen opreg.

Aan die families en kollegas van die helde in uniform, baie sterkte in dié moeilike tyd.

Exit mobile version