Jêm blikke, vis blikke

Dit is weer interhoërtyd en die opwinding en afwagting in die dorp is tasbaar.

Jêmblikke, visblikke, drie by drie, ons is, ons is, weet julle wie? If you wanna be a winner, clap your hands, rah rah rah!

Ja, dit is weer interhoërtyd en die opwinding en afwagting in die dorp is tasbaar. Hoërskoolatlete is hard aan die oefen en voorbereidings by die gasheerskool hier in ons eie dorp is in volle swang.

Vir baie gr.8-leerlinge is dit ‘n ongelooflike ervaring om eerstehands te sien hoe hardloop, spring en gooi dié yslike groot sterk matriekseuns en mooi dogters verder, hoër en vinniger as wat hulle ooit kon gedroom het.

Dit laat my dink aan my eerste ervaring van kompeterende deelname aan atletiek.

Die skooltjie waar ek my skoolloopbaan begin het, het slegs een klas van elke standerd (deesdae graad) gehad, van Sub A tot matriek.

Dink nou net. As pikkie kom ek by die skool aan met my blink nuwe skoene, kouse wat amper tot bo die knieë opgetrek is en baadjie wat amper tot onder die knieë hang.

Ek word verwelkom deur ‘n reus wie se kniekoppe op dieselfde vlak as my oë is en die hare op sy bene lyk vir my soos die dik swart garing waarmee Ouma Matty haar handsakke vasgewerk het.

Binne twee dae praat hulle van atletiek waar almal moet hardloop.

My jong brein kan nie aanvaar dat ek teen dié reuse moet hardloop nie.Gou-gou word ek gerusgestel dat ek teen pikkies van my eie ouderdom sal meeding.

Die Saterdag van die groot atleteik breek aan en ons pikkies is natuurlik eerste aan die beurt.

Met slegs een klas Sub A’tjies is daar nie veel kompetisie nie, en daar wen ek die “flat race”.

Daardie aand kom kuier my oom en tannie en ek moet nou die nuus van die groot prestasie aan hulle oordra.

Selfs vir ‘n Engelsman van daardie ouderdom weet mens nie veel van grammar, tenses en goeters nie en ek val trots weg met, “Aunty Rieks, I wan… I wan today.”

“You mean you ran today,” wil sy my reghelp.

“Yes, I ran, but I also wan,” sê ek angstig.

“Oh, you mean you ran and you won,” help sy my weer reg.

Daar kry ek my eerste taalles maar vir my maak win, wan of won nie saak nie, want al wat ek wéét is: ek het gewen!

Aan al die atlete wat aan die komende interhoër op Ermelo gaan deelneem, maak nie saak of julle win, wan, won, lose of lost nie, wees net nederig en weet almal wat hul beste gee, is eintlik wenners, ongeag van watter plek hy of sy by die eindstreep haal.

Mag die dag vir een en almal ‘n ware fees wees.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version