OpinionTerloops

As dringend verlore gaan

Dieselfde boodskappe maak ook soms ná 'n jaar of twee weer hul "dringende" verskyning.

Soos ons almal teen dié tyd weet het die koms van elektronika en die gepardgaande sosiale media die wêreld vir ewig verander.

Selfs die ouer garde onder ons moet dit nou eenmaal erken. Ons kan nie meer daarsonder nie.

Met die vinnige tempo waarteen aparate soos rekenaars (onthou julle nog die rekenaar?) slim-selfone, tablette, I-pads en diesmeer ontwikkel en verander word is die leerproses selfs vir die slimste “wunderkinders” nooit verby nie. Daar is altyd iets nuut op die mark.

Om onmiddellike visuele kontak met mense dwars oor die wêreld te maak is so maklik soos om uit ‘n boom uit te val. Maar soos met baie dinge in die lewe is daar twee kante van die muntstuk.

Die beste tegnologie en slimste van die slimfone met al die ingewikkelde “apps” beteken net mooi niks as dit nie reg gebruik of aangewend word nie.

Vat nou die Whatsapp en Bakkiesboek “Apps”.

Ons almal kry gereeld sensasionele en dringende boodskappe wat op ‘n netjies ontwerpte stukkie grafika uitbasuin: “Wees op die uitkyk vir diê of daai kind wat weggeraak het, of die of daai “krimineel” wat aangejaag het.”

Die boodskap is reeds duisende keer deur mense gelees en oor en weer gestuur maar nou dit stop by my want ek beskou dit as nutteloos om dit verder aan te stuur.

Die rede? Daar is nie ‘n datum, tyd, plek of kontaknommers op die boodskap aangedui nie.

Die kind kon in enige tyd of plek in die wêreld vermis geraak het en mense weet nie waar om uit te kyk nie.

Die hartseer hiervan is dat kosbare tyd gaan verlore want niemand weet waar om te begin soek nie.

Dikwels is van die boodskappe reeds tot twee of drie jaar oud en die kind is lank reeds teruggevind.

Dieselfde boodskappe maak ook soms ná ‘n jaar of twee weer hul “dringende” verskyning.

Dit geld veral vir misdadigers wat gesoek word. Ons weet nie waar, wanneer en in watter deel van die wêreld die misdaad plaasgevind het nie.
Ons sal almal graag wil help as ons die basiese inligting tot ons beskikking het.

Nou die dag plaas iemand iets op my bakkiesboek-bladsy. Ek skryf terug “Daar is nie ‘n tyd, plek of datum op die boodskap nie. Wanneer?, waar?”

Daar word terug laat weet. “Ag ek het dit maar net aangestuur. Mens weet nooit nie.”

Doodreg my vriend.

Mens sal nooit weet nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button