Alles wat mooi is vir 2016

Die ruskans is verby en almal by die Hoëvelder is terug op hul pos.

Die ruskans is verby en almal by die Hoëvelder is terug op hul pos.

Ons is geseën dat elke werknemer wat gereis het veilig terug van hul onderskeie vakansiebestemmings teruggekeer het en die tuisblyers veilig bewaar is.

Ons span is onveranderd en elkeen in sy onderskeie hoedanigheid gereed om julle met raad en daad by te staan.

Die twee weke in die Kaap was salig en die kuiers saam met familie en vriende sal nog lank onthou word.

Die kuiers tussen die wingerde met ‘n glasie wyn, uitstappies dwarsoor die Skiereiland en stap langs die see kan nie met geld gekoop word nie en my hart is vol dankbaarheid vir die geleentheid wat ek gegun is om veral weer my twee “ver kinders” en my ma te sien.

Dis met dankbaarheid dat ek my geliefdes opgedra het aan Hom wat nooit Sy waaksaamheid verslap nie en uitsien daarna om hulle gou weer te sien.

Die vooruitsig van ‘n vinnige kuier in die Kaap in September wanneer Ouboet, as alles volgens plan verloop, trou, het die hartseer van tot siens sê darem bietjie minder gemaak.

Nou is dit egter weer tyd om skouer aan die wiel te sit en julle op hoogte te hou van wat in ons dorp en omgewing gebeur.

Soos altyd staan die Hoëvelder se deure oop vir elkeen wat wil adverteer, nuusbrokkies deel of sommer net wil inloer om te groet.

Aan elke leser en adverteerder – mag 2016 die jaar wees waarin jou drome waar sal word en mag ons Hemelse Vader elke tree saam met elkeen van julle gee.

Sonder julle volgehoue ondersteuning kan ons nie ‘n koerant die lig laat sien nie.

Wees asseblief verseker dat ons elke bydrae waardeer en daarna uitsien om saam met julle te werk om van Ermelo ‘n beter dorp om in te woon te maak.

My wens vir 2015 om van die vetrolletjies ontslae te raak, dat munispale dienste sal verbeter en vuurwerke nie meer ons diere in die dorp sal verskrik nie, het ongelukkig nie gerealiseer nie, maar ek is optimisties dat dinge in 2016 drasties sal verbeter.

Ons kan saam ‘n verskil maak deur elektrisiteit en water te bespaar en omgewingsvriendelik te lewe.

Net deur mekaar in ag te neem en regtig om te gee, kan ons die wêreld vir mekaar ‘n beter plek maak.

Alles wat mooi is vir 2016.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version