OpinionTerloops

Oorlewendes het ook ’n prys betaal

Maar wat van die oorlewendes? Soldate wat van oorloë terugkeer, kom terug huis toe met al die wreedheid wat hulle aanskou het in hulle koppe ingeëts.

Sekere gebeurtenisse, veral dié wat jaarliks gehou of herdenk word, is geneig om baie van ons verby te gaan.

Sommige van ons woon die gebeurtenisse wel by, miskien uit opregte belangstelling of regstreekse betrokkenheid, maar dan is dit dikwels verby en afgemerk as “gedoen” op ons “te doen”-lys. Die erns of impak daarvan word nie eintlik tuis gebring nie.

Ander gebeurtenisse woon ons eenvoudig nie by nie, want “ek het dit al gedoen”.

So was dit Sondag die geval met die Moths se herdenkingsdiens wat deur ’n klein groepie mense bygewoon is.

As joernalis was dit soos dikwels in die verlede my “taak” om die diens by te woon en daaroor te skryf.

Vanjaar was anders.

Soos gebruiklik en trouens soos dit moet en gepas is, is die gesneuweldes van verskeie oorloë en veldslae onthou. Hulle het immers die hoogste prys betaal.

Vanjaar se spreker, James Starkey, het egter die ander kant van oorloë kragtig tuis gebring.

Daar is nooit wenners in ’n oorlog nie. Dis wreed, Mense word gedood, beseer en vermink.

Maar wat van die oorlewendes? Soldate wat van oorloë terugkeer, kom terug huis toe met al die wreedheid wat hulle aanskou het in hulle koppe ingeëts.

James se woorde sal my altyd bybly. “Dit is nie soos die Springbokke wat deur duisende aanhangers met wapperende vlae terugverwelkom word en dan op die hande gedra word nie. Mens kom terug en dit is dit. Jy moet aangaan met jou lewe.”
Dan word daar van hulle verwag om soos motors op ’n glipweg van ’n snelweg sommer só met die samelewing in te pas, volstoom vorentoe.

James Starkey het met sy vertelling van sy persoonlike stryd om weer in en aan te pas menige harte geraak.

Die skietoorlog gaan verby, maar vir baie oudsoldate begin die persoonlike oorlog dan met drankverslawing, woede-uitbarstings, skeisake, werkloosheid, aanpassings sonder ledemate en talle ander gevegte wat nie raakgesien word nie.

Deur God se genade is baie van hulle daarvan verlos.

Toe ek daar staan, het ek gewonder hoeveel soldate het innerlik gesneuwel en hoeveel van ons het regtig aan hulle gedink of bygestaan.

Dankie, James, en duisende ander soos jy, wat ons land onder wrede en soms afskuwelike tye gedien het.

Die Moth-diens was ook vir julle.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button