OpinionTerloops

Kom ons raak ongewild

Is dit nie tyd dat munisipale bestuurders en diegene wat in magsposisies is hulself begin ongewild maak nie?

As die doen en late van ‘n mens se tuisdorp vir die regte redes die nasionale nuusblaaie haal, wil jy sekerlik bars van trots.

Dan kan ons nie wag nie om vriende en familie op ander dorpe en in stede en selfs oorsee op een van die sosialemediaplatforms te laat weet: “Kyk, Ermelo is in die nuus!”

Maar, ai tog, wat as ons dorp, oftewel ons munisipaliteit, die nuus haal vir die verkeerde redes?

Om in nasionale koerante te lees dat Msukaligwa tans een van die swakste munisipaliteite in die land is, is beslis nie iets waarop ons as inwoners van dié eens pragtige dorp trots kan wees nie.

Soos dit ‘n joernalis betaam, moet mens op hoogte bly van nuusgebeure, daarom moet die ore oop wees om te hoor en die oë moet wyd lees. En daar lees ek dat ‘n sekere politieke partywoordvoerder oor plaaslike regering meen dat Msukaligwa (Ermelo) saam met Ngwathe en Maluti-a-Phofung ­(Qwaqwa, Phuthaditjhaba, Harrismith en Kestell) in die Vrystaat die swakste munisipaliteite in die land is.

Reg of verkeerd, dit maak seer. Bitterseer.

Dit is seker vir dié redes dat sakelui en instansies soos kerke en dies meer hul moue opgerol het en begin inspring het om ‘n daadwerklike verskil in die dorp te maak deur die Petdam skoon te maak en slaggate in die dorp se strate op te vul.

Dié pogings verdien beslis al die lof wat hulle toegeswaai word.
Maar aan die ander kant kan daar gesê word dat hoe meer mens vir ‘n sukkelaar doen, hoe meer wil hy gedoen hê. Hy moet geleer word om homself te help.

Maar wat gedoen as die sukkelaar geen poging aanwend om homself te help nie en dan agteroor sit en toelaat dat ander mense sy sukkel op hulself neem?

Om beskuldigings oor en weer te slinger en blaam te wil plaas op die wanbetalers van munisipale rekenings is goed en wel. Maar soos ‘n bekende oud- Springbok-rugbyspeler sou sê: “Op die ou einde van die dag” gaan dit tog alles oor goeie bestuur.

As munisipale bestuurders net wil bestuur en koördineerders net wil koördineer, sal dit baie beter gaan.
En ja, hulle sal moet doen wat gedoen moet word en die sweep laat klap, al maak dit hoe seer onder die loodswaaiers.

‘n Goeie bestuurder van ‘n onderneming is selde gewild onder sy onderdane.
Is dit nie tyd dat munisipale bestuurders en diegene wat in magsposisies is hulself begin ongewild maak nie?

Related Articles

Back to top button