OpinionTerloops

Stadig oor die klippe… of nie?

’n Laer spoedgrens op die land se paaie sal dalk lei tot ongeduld en roekeloosheid.

Die voorgestelde nuwe spoedgrense op ons paaie, of, in sommige gevalle op dit wat oorbly van die paaie, het onlangs tot hewige debat in raadskamers, kantore en langs braaivleisvure gelei.

Die doel met die verlaagde spoedgrens volgens die manne en vroue wat die hoë posisies beklee en vreemde besluite maak, is om die hoë ongeluksyfer en dodetal op ons paaie te verminder.

Indien dié besluit eendag deurgevoer en as wet ingestel word, voorsien ek chaos op ons nasionale, stedelike en dorpspaaie.

Glo my, mense, daar doer in die oertye toe ek ‘n jong laaitie was, het die toentertydse wetmakers ook die spoedgrens verlaag na 80km/h op alle nasionale paaie.

Die rede daarvoor was ‘n brandstoftekort, soortgelyk aan die tekort aan krag wat ons deesdae met Eskom ervaar. Die slim omies het gereken daar sou minder brandstof gebruik word soos wat die hedendaagse besluitnemers reken ons minder krag gebruik tydens beurtkrag.

Terug na die spoedgrenssaak.

Stadige motoriste op ons paaie veroorsaak uiterste frustrasies vir die haastige ouens en dit lei dikwels tot roekelose besluite en optrede.

Nou die oggend ry ek werk toe en ek sit agter iemand wat sy motor (wat die gewone sterfling nooit sal kan bekostig nie) teen 40km/h bestuur. Hier, in ‘n dorpstraat. Nousien, ek is ‘n geduldige mens, maar nie almal is nie.

Die cowboy wat so naby agter my ry dat ek die baardstoppels op sy kennebak kan sien, skiet uit en gaan ons twee motoriste wat die 40km/h-spoedgrens uittoets verby met gesuis van turbokrag en skaars een straatblok verder lê ‘n vierrigting-stopstraat vir hom en wag.

In die verlede sou dit nie ‘n groot probleem gewees het nie. Maar dis deesdae se tyd. Daar is sand in die slaggate en die sand word uitgery en beland op die teeroppervlak.

Toe die turboman rem trap, gly sy motor al s-s-suisend vorentoe en hy sien hy gaan nie betyds kan stilhou nie. Hy los die rempedaal en glip oor die kruising, want wat help dit hy hou aan die anderkant stil?

Van die ander kant af kom Mevrou Deftig wat nooit by daai stopstraat doodstil hou nie. Die twee mis mekaar rakelings so teen 40km/h. Dit sou groot skade berokken het indien die twee motors gebots het, miskien met noodlottige gevolge.

Roekelose bestuur kom teen enige spoed. ‘n Mens kan teen 60 of 40km/h net so roekeloos wees as iemand wat teen 120km/h of selfs vinniger bestuur.

Dit laat my dink aan ‘n ou rympie van die destydse padveiligheidsboekies: “Here lies John Wright. Dead right as he went along, but just as dead as if he had been wrong.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button