Onwelkom by Infanterieskool

Oud soldaat kry afjak toe hy sy ou weermag-eenheid op Oudtshoorn besoek.

Ek is A/01 Torlage, destydse stigterslid sowel as staflid van die Infanterieskool op Oudtshoorn.

Ek was onlangs op besoek daar, maar is letterlik weggejaag.

My pa was ‘n destydse bevelvoerder van die skool en my een seun was ‘n student daar. Die bogenoemde eenheid het geen agting hiervoor gehad nie.

Op 5 Mei was ek in Oudtshoorn op besoek by familielede en het besluit om my ou Infanterieskool ná al die jare te gaan groet. Toe ek by die adjudant (kaptein) se kantoor instap, het ek myself voorgestel en hom vertel van my verbintenis met die skool.

Hy was van die staanspoor af baie onvriendelik en ek het agtergekom iets was nie pluis nie.

Toe ek in die voorportaal staan en na my pa se foto’s kyk wat steeds daar hang, het die tweede-in-bevel van die Infanterieskool, lt.kol. Manzini ingestap en ek het myself aan hom voorgestel soos wat ek met die kaptein gedoen het.

Toe kom dit!

Sonder om my terug te groet, vra hy, “Have you got an appointment to be here!?” Toe ek “nee” antwoord, het hy my in ‘n baie aggressiewe toon toegesnou: “Now you must GO, just GO, GO or I will call the police.”

Ek het aan hom probeer verduidelik dat ek slegs op ‘n nostalgiese besoek was, soos ek nog altyd gemaak het met besoek aan Oudtshoorn.

Hy beveel my toe weer om te loop en dreig my weer met die polisie.

Ek het besluit om maar eerder te loop voordat ek iets onvanpas sou sê.

Op pad uit het kol. Manzini my toegesnou: “You are the Apartheid people!” Die adjudant sê ook ek beter nou loop, wat ek wel gedoen het. Dit alles ná die sekerheidswagte by die hek my toegang tot die basis verleen het!

In my 33 jaar in die weermag was ek nog nooit so behandel nie.

Ek is van plan om die saak verder te voer.

Exit mobile version