OpinionTerloops

Krisis op krisis

Daar is nie 'n vinger op die polsslag van die dorp se sake gehou nie en nou sit die inwoners met die pere. Nee, die pere is nie gebak nie, daar is nie krag om hulle gebak te kry nie.

Mense, dinge is deurmekaar!

Ordentlikheid weerhou my egter daarvan om te beskryf presies hoe deurmekaar ek en jy dinge deesdae vind. Al wat ek sal sê, is dit het iets te doen met ‘n tuimeldroër.

Die agteruitgang van ons dorp, die benarde en chaotiese toestand waarin die Msukaligwa Munisipaliteit hom bevind en die klaarblyklike onvermoë van enigiemand om iets daaromtrent te doen, is skrikwekkend.

Mens kan nie anders nie as om te vra: “Hoe op dees aarde het dit gebeur of hoe is daar toegelaat dat dinge só ver agteruit kon gaan?”

Dit is strate vol slaggate, riool wat oral in strate en erwe uitborrel, gesuiwerde drinkwater wat dae, weke, maande en selfs jare lank by lekkende waterpype vermors word, kragonderbrekings wat bo en behalwe beurtkrag daagliks voorkom, gebiede wat dag na dag sonder water in die krane sit, geboue wat onwettig en sonder goedgekeurde bouplanne voor blinde oë opgerig word, baantjies vir boeties en só kan mens aangaan.

As enige bestuurder, departementshoof of toesighouer van enige sakeonderneming toelaat dat daar sulke wanorde en haglikheid onder sy of haar bestuur ontstaan, sal hulle en waarskynlik hulle onderdane summier ontslaan word. Bygesê, enige sakeman wat staan en toekyk dat sy onderneming stelsmatig ten gronde gaan, sal vinnig bankrot wees.

Is dit nie presies wat met ons plaaslike munisipaliteit gebeur het nie? Die syfers wat nou in verband met die munisipaliteit se skuldlas aan Eskom en die Departement Waterwese (Rand Water) rondgegooi word, is skrikwekkend. Die honderde miljoene waarvan daar gepraat word, is ver buite die verwysingsraamwerk van die gewone salaristrekker.

Wanbetalers van munisipale verbruikersrekeninge en belasting moes lankal vasgevat gewees het, onwettige krag- en waterkoppelings moes gepolisieer word en die skuldiges beboet word.

Maar daar is nie ‘n vinger op die polsslag van die dorp se sake gehou nie en nou sit die inwoners met die pere. Nee, die pere is nie gebak nie, daar is nie krag om hulle gebak te kry nie.

Die dreigement van Eskom om die kragtoevoer aan wanbetalende munisipaliteit tussen sekere ure af te skakel in ‘n poging om die uitstaande skuld in te vorder, het die potensiaal om in iets leliks te ontaard.

Die onskuldiges gaan saam met die skuldiges gestraf word.

Mense! Tot watter uiterstes moet die ordentlikheid en geduld van die wetsgehoorsames getoets word?

Sien ek ‘n ding wat kom of sien ek dit nie?

Ek vra maar net.

Related Articles

Back to top button