Terloops

En voor jy kon sê “Kerskous” is die ruskans verby en ons almal weer terug in die tuig. Die lekker eet, middagslapies en kuier saam met vriende en familie was heerlik, maar net te gou na my sin verby. Nou is dit egter weer tyd om julle op hoogte te hou van wat in die …

En voor jy kon sê “Kerskous” is die ruskans verby en ons almal weer terug in die tuig.

Die lekker eet, middagslapies en kuier saam met vriende en familie was heerlik, maar net te gou na my sin verby.

Nou is dit egter weer tyd om julle op hoogte te hou van wat in die dorp gebeur en ons sal soos altyd in die verlede dit na die beste van ons vermoë doen.

2014 was ’n goeie jaar by die Hoëvelder en met die toegewyde span wat ons aan boord het, kan 2015 net beter wees.

Aan al ons kliënte en lesers – voorspoed vir die jaar wat voorlê en mag 2015 vol vreugde, geluk en mooi dinge wees.

Wees asseblief verseker dat ons hier by die Hoëvelder gereed staan om aan julle die beste diens te lewer.

Ons nooi julle ook vriendelik om hier by ons kantoor in te val vir ’n geselsie of ’n koppie koffie.

Dis altyd lekker om ’n gesig by ’n naam te sit wanneer jy met iemand oor die telefoon gesels.

Laat ons asseblief weet van dinge wat in en om ons dorp gebeur sodat ons dit met die res van die gemeenskap kan deel.

Ons help ook graag wanneer dinge pla deur dit, wanneer moontlik, met die regte persone en instansies op te neem en sodoende ’n rol in die oplossing van probleme te speel.

Moet dus nie huiwer om ons te skakel wanneer daar iets is wat krap nie.

Natuurlik het meeste van ons ’n paar voornemens vir die nuwe jaar en ’n paar uitdagings om te oorkom.

Die lekker eet se vetrolletjies gaan voorkeur op my lys van voornemens geniet en ek gaan meer tyd met vriende en familie deurbring.

Ek wil graag almal uitdaag om die lewe vir die mense rondom hulle in die nuwe jaar so aangenaam as moontlik te maak en ook meer tyd vir mekaar te maak.

Die lewe is so kort en ons het mekaar nodig om die wêreld vir almal ’n lekker plek te maak om in te bly.

Aan die munisipaliteit wil ek die uitdaging rig om iets drasties aan die slaggate in ons paaie, die toestand van sekere geboue en die Petdam te doen en ook om die afskiet van vuurwerke in woongebiede te verbied.

Behalwe dat mense kan seerkry, is dit hartverskeurend om te sien hoe vreesbevange die geknal van die vuurwerke die diere maak. Ons hier by die koerant help weke ná die tyd mense nog soek na diere wat verskrik was en die pad gevat het weens die geraas van die vuurwerke.

Kom ons almal staan saam teen dié euwel en maak die feestyd vir ons diere ook ’n aangename en rustige tyd.

Mag die Hemelse Vader in die jaar wat voorlê julle almal behoed en bewaar en indien daar iets oor enige een van julle se pad kom wat dalk hartseer mag bring, julle styf vashou en vertroos.

Nou is dit tyd om aan die werk te spring sodat julle ’n koerant kan hê om te lees.

Mag dit vir julle net so lekker wees om ons koerant te lees soos dit vir ons is om die nuus vir julle bymekaar te sit.

Exit mobile version