Kleurvolle mure bring vreugde by Prism Sentrum op Ermelo

Behalwe die mure was daar ook drie bote op die speelterrein wat die kunstenaars as deel van hulle inskrywing kon verf.

ERMELO – Kort nadat Gerda Smuts, die eienaar van die Prism Training Centre, ’n verfkompetisie om die sentrum se terrein op te kikker geloods het, het talle mense die uitdaging aanvaar en dit aangepak.

Smuts sê dat een van die kinders wat met serebrale gestremdheid gediagnoseer is, nie kan ophou om vir die helder tuinmure te kyk nie.

“Hy het my skoon in trane gehad met sy opgewondenheid oor die prentjies op die muur. As ek my rug draai, is hy by die deur om daarna te kyk,” het sy gesê.

Omdat die sentrum nie die geld het om die tuinmure te verf nie, het Smuts die kompetisie van stapel gestuur met die hoop dat van die inwoners deur middel van hierdie inisiatief die skool sou kon help.

Rondom die terrein is sowat 43 voorafgegote mure wat sy geverf wou hê.

Die dorp se inwoners, waaronder kunsstudente en kunstenaars, kon slegs R100 se inskrywingsgeld betaal om enige van dié mure met die tema ‘Lalaland van Lollos en Lettie’ te kom verf.

Een van die inskrywings vir die Prism-verfkompetisie. Foto: Verskaf/Gerda Smuts

Behalwe die mure was daar ook drie bote op die speelterrein wat die kunstenaars as deel van hulle inskrywing kon verf.

“Met elke inskrywing is die kunstenaar ook deel van God se plan gewees om ’n plek vir dié kinders in te rig en te verseker dat hulle ’n veilige hawe het waar hulle kan leer en speel,” het sy gesê.

Die deelnemers moes hulle eie verf en benodighede saambring.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version