Oud-Ermeloër wen gesogte TV-toekenning

Dit was die eerste keer dat sy só 'n gesogte toekening in haar loopbaan ontvang het

Mandri Sutherland, ‘n oudinwoner, is onlangs tydens die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie as die beste byspeler in ‘n komedie vir haar rol in Taktiek aangewys.

In die TV-reeks vertolk sy die rol van Mignon, die hoof van Taktiek, ‘n sekuriteitsmaatskappy in die dorp Schusterton, se kommunikasie.

Oor hierdie rol sê sy dat dit vir haar ‘n groot oomblik was toe sy uitvind dat sy Schalk Bezuidenhout se suster sou vertolk.

Die kort tyd beskikbaar vir verfilming was vir haar ‘n uitdaging, maar sy sê dat sy saam met ‘n ongelooflike span gewerk het wat elke oomblik op die stel ‘n hoogtepunt gemaak het.

Sutherland sê dat haar bene skoon lam was toe sy uitgevind het van die benoeming van dié toekenning, en sy het nie gedink sy staan ‘n kans om dit te wen nie.

“Dit was die eerste toekenning van die aand, en ek was saam met verskeie veteraanakteurs in die kategorie, insluitend Annelisa Weiland, Gershwin Mias en James Borthwick, wat almal al diep spore in die bedryf getrap het,”
het sy gesê.

Dit was die eerste keer dat sy só ‘n gesogte toekening in haar loopbaan ontvang het, en dit was vir haar ‘n groot eer. Hoewel dié toekenning nie haar benadering tot die bedryf verander het nie, het dit haar beslis positief beïnvloed.

“Dit is altyd lekker om vir jou werk beloon te word, en my rol as storieverteller is gegrond op dit wat ek na die tafel toe bring.”

Die aand van die toekennings, wat op die bekende blou tapyt geskied het, was vir haar ‘n besonderse en baie spesiale aand.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Exit mobile version