Jong seuns en man by Douglasdam aangerand

Die ma sê dat die beweerde aanvallers moontlik sekuriteitswagte by die myn is, maar dat hulle geen uniforms gedra het nie.

ERMELO – ‘n Traumatiese toneel het hom afgespeel toe ‘n 14-jarige seun sy ma in ‘n paniekbevange toestand gebel het kort voordat twee volwasse mans na bewering op hom toegesak en hom aangerand het.

Die voorval het op 24 Augustus omstreeks 14:30 plaasgevind toe die seun, sy 22-jarige broer en ‘n 13-jarige vriend met hulle motorfietse naby die myngronde by die Douglasdam gery het.

Volgens die seun se ma het twee onbekende mans eers die 13-jarige op sy eie genader en hom dadelik begin slaan en skop sonder om ‘n woord te sê.

Nadat die twee broers om ‘n draai gery het, het hulle bekommerd geraak dat hul vriend dalk met sy fiets vasgesit het.

Die beserings aan die heup van die 14-jarige-seun. Foto | Verskaf

Hulle het na hom toe gehaas, en een van die mans het glo ‘n vuurwapen uitgepluk, dit oorgelaai en op hulle gerig.

Die oudste seun het vir sy kleinboet gesê om te vlug terwyl hy sy hande in die lug opgehou het om aan te dui dat hy saamwerk.

Terwyl die jongste agter een van die mynhope skuiling gesoek het, het die gewapende man en nog een die out broer genader, hom van sy motorfiets afgetrek en beweerdelik geslaan en geskop het.

Die 14-jarige het paniekbevange sy ma gebel, maar die mans het hom ook opgespoor, hom beweerdelik in die gesig geslaan en geskop toe hy val.

“Dit was ‘n uiters traumatiese ervaring vir my jongste,” het die ma gesê. “Hy was histeries toe hy my bel en het net aangehou sê sorry, sorry, voordat hy die oproep afgesny het. Dit is glo op daardie stadium wat hulle hom begin slaan en skop het.”

“Ons het geweet dat die mans vuurwapens het, en daarom wou ons nie terugbaklei en die situasie vererger nie,” het die 14-jarige gesê.

Die ma sê dat die beweerde aanvallers moontlik sekuriteitswagte by die myn is, maar dat hulle geen uniforms gedra het nie.

“Ons verstaan nie waarom hierdie aanval plaasgevind het nie, aangesien daar geen tekens was om aan te dui dat die gronde privaat is nie,” het sy gesê.

Boonop het sy gesê dat selfs indien dit privaat was, die mans hulle glad nie daarvan ingelig het nie en net dadelik die seuns aangeval het.

Sy het verder verduidelik dat die seuns nie naby enige mynbedrywighede gery het nie.

“Langs Douglasdam loop ‘n grondpad wat verder vorentoe links draai, voor die gebied waar die mynbedrywighede is. Die seuns het by die sandhope met hulle motorfietse gery, wat volgens ons nog deel van Douglasdam se gronde is.”

Die seuns se pa was ook hewig ontsteld en het na die gebied gery en die polisie ontbied.

Volgens hom wou die mans eerder skik as om die wettige roete te volg, maar hy het gesê dat hy nie sal rus voordat hulle toegesluit is nie.

Hy het verder gesê dat die polisie daar aangekom het, maar dat hy voel dat hy en sy seuns deur die polisie as oortreders in die voorval hanteer is.

“Ek het vir hulle gesê dat die mans ‘n vuurwapen op my seun gerig het en dat hulle vir hulle wapenlisensies moet vra,” het hy gesê.

Volgens hom het hulle vir hom gesê om nie vir hulle te probeer leer hoe om hul werk te doen nie.

Vandaar was dit volgens hom net afdraande. Die polisie het glo voorgestel dat beide die seuns en die mans ‘n saak by die polisiestasie gaan open.

Die polisie het volgens die pa agtergebly nadat hulle en die seuns aangesê is om te ry.

Albei ouers het hul teleurstelling uitgespreek oor die polisie se hantering van die voorval en is van mening dat die mans vir aanranding en die rig van ‘n vuurwapen gearresteer moes word.

Hulle het intussen ‘n saak gaan open en die seuns na ‘n dokter op die dorp geneem sodat hy hulle kon ondersoek en behandel indien nodig.

Die besering aan die 14-jarige se kop.

Die dokter se verslag, wat met toestemming deur die ouers verskaf is, dui op kneusing wat ooreenstem met stomp geweldtrauma aan die hoof en skrape wat ooreenstem met stomp trauma, moontlike kontak met ‘n rowwe oppervlak op die heup.

Hoëvelder het pogings aangewend om die naam van die myn en die identiteit van sy woordvoerder of bestuurder vas te stel om ook hulle kant van die storie te vertel.

‘n Anonieme bron het aan die publikasie ‘n kontak voorsien, wat na bewering die mynbestuurder is.

Lees die volledige beig in die Hoëvelder.

Exit mobile version