Ermeloers smag na goed onderhoude sportklubs

Die Ermelo Sport-Inn het ’n ryk geskiedenis en die inwoners vertel dikwels van hulle jonger dae toe hulle verskeie sportsoorte hier beoefen het

Daar is min te sê oor die toestand van die Ermelo Sport-Inn waaroor daar nog nie voorheen gepraat of berig is nie.

Die toestand van die geriewe en die sportsaal se dak wek groot kommer, veral onder die voorsitters van verskeie sportklubs op die dorp wat van hierdie fasiliteit gebruik maak.

Hoëvelder het reeds verskeie kere oor die probleme by dié saal verslag gedoen, maar dit blyk dat daar geen onmiddellike oplossing in sig is nie.

Die Ermelo Sport-Inn het ’n ryk geskiedenis en die inwoners vertel dikwels van hulle jonger dae toe hulle verskeie sportsoorte hier beoefen het.

Water stroom deur die dak. Foto | René Joubert

In 1969 het die stadsraad besluit om ’n groot binnenshuise sportsentrum op te rig. Die aanvanklike boukoste is op ongeveer R100 000 geraam, maar die uiteindelike koste het R300 000 beloop.

Die oprigting van die sportsaal het in 1974 begin, en gedurende die naweek van 22 en 23 Februarie 1980 is dit vir die eerste keer in gebruik geneem.

Die fasiliteit was oorspronklik vir sportsoorte soos muurbal, pluimbal, tennis, ringtennis, tafeltennis, karate, stoei, boks, rolskaats, gimnastiek, netbal en snoeker beskikbaar gestel.

Sien die munisipale woordvoerder se antwoorde op vrae: HIER

Heelwat van hierdie sportsoorte word steeds beoefen, maar om vandag hier toernooie aan te bied, sal ’n mens van skaamte laat bloos.

Vandalisme en diefstal het veroorsaak dat die badkamers buite werking is, wat die ongerief vir die mense wat hierdie perseel gebruik, verder vererger.

Die badkamers is onbruikbaar. Foto | René Joubert

Wanneer dit reën, is die saal onder water as gevolg van die van die dak se toestand, en veiligheid is nog ’n bron van kommer, siende dat daar buite waar die mense saans parkeer, nie ligte is nie.

Die saal is onder andere tydens ’n ouervergadering van die Ermelo Stoeiklub op 10 Julie bespreek.

Reghardt van Niekerk, die klubvoorsitter, het gesê dat hulle in besprekings met die plaaslike owerheid is rakende dié fasiliteite wat uitmekaarval.

Ander inwoners op die dorp het ook ’n beroep op Hoëvelder gedoen om te probeer uitvind hoe haalbaar dit sal wees om die gebou te privatiseer om sodanig dan opknappings te doen en ook toegang en die gebruik van die saal self te kan reguleer.

Nog ’n voorstel was dat die onderskeie sportklubs se voorsitters byeenkom om idees te ontwikkel om die probleme aan te spreek.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Exit mobile version