Local news

Boere ernstig beseer in wegholbrand in Amsterdam-omgewing

Die Vuurgevaarindeks (FDI) was rooi, met 'n waarde van 80, wat groot brandrisiko's impliseer.

Hoëvelder het inligting ontvang wat daarop dui dat twee boere vandag, 11 Augustus, ernstig beseer is in ‘n brand in die Amsterdam-omgewing sowat 10km buite Ermelo.

Die boere is met ernstige brandwonde na die Milpark Hospitaal in Johannesburg oorgeplaas vir behandeling.

Die inligting, wat ook op WhatsApp-groepe gesirkuleer is, versoek die gemeenskap om asseblief vir die betrokke individue en hul gesinne in hierdie tyd te bid, en om die families se privaatheid te respekteer.

Daarom publiseer Hoëvelder dus nie die name van die betrokke individue nie.

Daar word verneem dat die brand ontstaan het deur ‘n wegholvuur, en dat die boere daarop reageer het en probeer voorbrande maak.

Die wind het glo in ’n kwessie van sekondes gedraai, en die vuur het hulle beweerdelik teen hul bakkies vasgedruk, wat tot ernstige brandwonde gelei het.

Verder het Hoëvelder verneem dat moeilike weersomstandighede bygedra het tot die brand.

Volgens beskikbare inligting was die weerstoestande om 14:00 uiters ongunstig, met ‘n temperatuur van 26°C, humiditeit en sterk winde van 38-50 km.

Die Vuurgevaarindeks (FDI) was rooi, met ‘n waarde van 80, wat groot brandrisiko’s impliseer.

In ‘n ander verwante ontwikkeling het Hoëvelder verneem dat een van die Working on Fire (WOF)-spanne se voertuie omgeslaan het op die Amsterdam-Lothair pad, nadat dit na bewering deur ‘n ander voertuig van die kant af getref is.

Volgens inligting wat tans die ronde doen op sosiale media is 15 van die beseerdes na die Ermelo Mediclinic geneem.

Waarskuwing: Inligting rondom die WoF-voertuig is nog nie amptelik bevestig nie en moet dus met omsigtigheid hanteer word.

Die Hoëvelder het navrae gestuur aan Amanda Mthembu, woordvoerder van WOF, en kon nie ten tyde van hierdie publikasie terugvoer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button