Local news

Geliefde Ermeloër se skielike dood skok gemeenskap

Sy het altyd baie liefde teenoor almal betoon.

Myrtle Hazel Elaine Horsley se skielike afsterwe op 31 Julie het die gemeenskap in skok gelaat.

Sy was geliefd onder alle inwoners en klante van Pick n Pay, met wie sy gereeld ‘n geselsie aangeknoop het terwyl sy hulle vriendelik gehelp het.

Horsley het op 22 Junie ‘n beroerte gehad wat haar aan haar regterkant verlam gelaat het.

Haar familie sê dat sy later bedsere gekry het wat septies geword het, en sy is as gevolg daarvan oorlede.

Horsley is op 7 Februarie 1961 in Newcastle gebore, waar sy ook skoolgegaan het en later saam met haar ouers op ‘n plaas gewerk het.

Sy het in 1986 saam met haar eerste man, Mike Till, wat by die spoorweg werksaam was, hierheen verhuis.

As jong vrou was sy ook ‘n kelnerin voor sy vir sowat vyf jaar by Pick n Pay werksaam was.

Horsley is in 2014 met Jan van den Berg getroud. Hulle het ‘n skrootwerfonderneming op die been gebring, waar hulle saam gewerk het tot sy dood, en sy het toe weer by Pick n Pay begin werk.

Hazel Horsley en haar familie. Foto’s | Verskaf/Junita van Rooyen

“Sy was ‘n liefdevolle mens wat baie lief vir haar kinders en familie was.

Sy het altyd baie liefde teenoor almal betoon,” het Junita van Rooyen, een van haar aangetroude kinders, gesê.

Haar familie sê dat sy pligsgetrou in haar werk was en dat ander altyd op haar kon staatmaak.

Hulle sal altyd haar lag en behulpsaamheid onthou, en beskryf haar as die dienende Martha.

Vir Horsley was haar familie, haar man, haar kleinkinders en ook haar werk haar grootste plesier gewees.

Sy het graag gehekel en gebrei en naaldwerk gedoen.

“Hazel het vir haar kleinkinders en familie se kinders almal truitjies gebrei.”

‘n Begrafnis sal op 8 Augustus vanuit die Metodiste Kerk Ermelo vir haar gehou word.

Sy laat haar man, Van den Berg, hulle kinders en haar broers en suster agter.

Horsley se familie het Pick n Pay Ermelo, die Ermelo MOTH-klub en die Ermelo Care Bears bedank, asook elkeen wat gehelp het om tydens haar siekte na haar om te sien.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button