Ermelo Care Bears verkoop worsrolle en hamburgers vir ‘n kind in nood

Die groep steek gereeld hul hande op om kinders te help.

Die Care Bears-groep het op 27 Julie weer soos oudergewoonte die vuur aangesteek om worsrolle en hamburgers vir ’n kind in nood te verkoop.

Die groep steek gereeld hul hande op om kinders soos klein AJ Stoop, wat onlangs met kanker gediagnoseer is, met die mediese uitgawes wat sy ouers moet aangaan te help.

Ongeag die wind en koue weer het die gemeenskap saamgekom en van die braai ’n reusesukses gemaak.

Julia Basson, ’n lid van die Care Bears, het namens die groep die gemeenskap van Ermelo vir hul ondersteuning bedank.

Sy sê dat die geld wat ingesamel is, gebruik sal word om doktersrekeninge te betaal.

Basil en AJ Stoop tydens die braai. Foto | Verskaf/Care Bears

“Care Bears betaal nie kontant aan enige ouer uit nie, dit word slegs aan dokters of hospitaalrekeninge betaal.”

Sy sê dat hulle volgende Care Bears-kind wat hulp benodig, Jason Malherbe is, wat ’n stemseloorplanting benodig.

Jason benodig sowat R65 000 om die behandeling te ontvang, wat hom kan help om te kan praat en vir hom ’n beter gehalte lewe kan gee.

Enige donasies of hulp is baie welkom.

“Ons wil graag aan die Stoop-gesin al ons liefde en seënwense gee met klein AJ se herstelpad vorentoe toewens.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version