Local news

Sportmangees triomfeer toe Ligbron-speler ernstige besering opdoen

Tamsanqa se besering het Saterdagaand ’n opname in die hospitaal genoodsaak.

ERMELO – Hierdie afgelope naweek het Ligbron Akademie vir Tegnologie se rugbywedstryd op hul tuisveld teen HTS Middelburg ’n ontstellende wending geneem toe Tamsanqa Lamula van Ligbron ’n ernstige besering op die veld opgedoen het.

Tamsanqa het harsingskudding opgedoen en ook ’n epileptiese aanval gehad, maar uit hierdie besering het uitnemende sportmanskap na vore gekom.

Die besering het onmiddellike reaksie by die spelers van albei spanne gelok.

Met vinnige optrede het hulle die beseerde speler aan die paramedici uitgewys en aan sy sy gebly totdat hulp opgedaag het.

Tamsanqa Lamula. Foto | Verskaf/Ligbron

In ’n roerende vertoning van respek en sportmanskap het HTS Middelburg se spelers ’n muurformasie tussen die beseerde Tamsanqa en die toeskouers gevorm, terwyl die paramedici vinnig na hom omgesien het.

Die speler is van ’n draagbaar na die ambulans oorgeplaas.

Terwyl die ambulans voor die skare verbygery het, het die Rooies se ondersteuners opgestaan, hul kepse afgehaal en uitbasuin, “Ligbron, we salute you!”.

Tamsanqa se besering het Saterdagaand ’n opname in die hospitaal genoodsaak.

Volgens sy afrigter, Herman Schlebusch, was dit die tweede keer dat hy harsingskudding opdoen.

Terwyl die ambulans voor die skare verbygery het, het die Rooies se ondersteuners opgestaan, hul kepse afgehaal en uitbasuin, “Ligbron, we salute you!” Foto | Wayne van der Walt

Hy is oornag vir observasie in die hospitaal gehou en is gelukkig vroeg Sondagoggend ontslaan. Schlebusch het gesê dat die dokters tevrede was met sy vordering.

Hy het sy dankbaarheid teenoor die HTS Middelburg-span en hul ondersteuners uitgespreek, hulle voorbeeldige sportmanskap geprys en opgemerk dat sulke vertonings seldsaam op skoolvlak te siene is, waar die fokus dikwels slegs op wen is.

Schlebusch het ook sy dank aan die mediese personeel en ICU Care Piet Retief betuig vir hul deeglike hantering van die situasie en ander voorvalle wat gedurende die dag plaasgevind het.

Alhoewel Tamsanqa, volgens Schlebusch, nie binnekort weer op die veld sal uitdraf nie, sal hy steeds die span vanaf die kantlyn ondersteun en bystaan.

Schlebusch het die belangrikheid van Tamsanqa se teenwoordigheid en bydrae tot die span beklemtoon, selfs terwyl hy herstel.

Related Articles

Back to top button